INHOUD

Wortels is selde sigbaar, en tog anker en voed dit ons en gee dit stilweg inhoud en rigting aan ons lewens. In hierdie uitgawe van Matieland vier ons die waarde van ons wortels; hoe ons verlede en ons vandaankom ons kan lei tot ’n plek van veerkragtigheid en vernuwende denke wat ons vlerke gee om hoër te sweef as wat ons ooit kon droom.

 

Ons vertel jou van mense soos Revando van Wyk, wat persoonlike teëspoed in ’n platform van hoop omskep het en ons daaraan herinner dat wortels van swaarkry ons eendag as leiers kan laat uitstyg. Put inspirasie uit die verhaal van Refilwe Moreetsi, wie se kinderdroom haar van Tzaneen na ’n baanbrekerloopbaan in lugvaart gelei het, en wat bewys dat jy met visie en vasberadenheid grense kan versit. En ontmoet Antoine van Heerden, wat ’n handvol makadamianeute in ’n florerende onderneming omskep het, alles te danke aan ’n idee wat in sy kampusdae wortelgeskiet het.

 

Op institusionele vlak toon die Universiteit se nuwe Mediese Morfologie-leersentrum hoe erfenis en innovasie sy aan sy kan bestaan deur die wysheid van die verlede met die moontlikhede van die toekoms te kombineer. Die Maties Fietse-projek bewys op sy beurt dat ’n eenvoudige fiets die wiele van verandering aan die rol kan sit wanneer dit gewortel is in ’n begeerte om ’n positiewe impak op mense se lewens te hê.

 

Ons Matiewortels is ook iets wat ons saambind. Vanjaar se Tuiskomsnaweek het ons daaraan herinner dat Stellenbosch méér is as ’n plek – dit is ’n gemeenskaplike verhaal van tradisies, vriendskappe en samehorigheid wat aanhou vorm wie ons as ’n universiteitsgemeenskap is. 

 

Saam getuig die stories in hierdie uitgawe van die waarde van ons wortels. Ongeag of ons wortels uit erfenis, swaarkry of hoop groei, kan dit ons vlerke gee om lewens, gemeenskappe en industrieë te verander. As Maties, dra ons oral ons wortels met ons saam, want ons weet dít is wat ons die krag gee om te sweef.

 

Lekker lees.

Blanché de Vries-Bartes

 

Revando van Wyk het as kind persoonlik die verwoesting van middelmisbruik ervaar en homself belowe dat hy sy lewe sal omkeer, en lei. Deesdae bring dié jong US-leier hoop en inspirasie vir ander.      

 

Nadat ’n artikel oor hom as deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Jeugmaandveldtog in Junie verskyn het, is Revando van Wyk, ’n Opvoedkunde-derdejaarstudent, oorval deur boodskappe van US-personeel, -dosente en -klasmaats vir wie sy verhaal ’n bron van inspirasie was. Kort voor lank het die erkenning ook van buite die Universiteit gekom: Skole en organisasies het hom genader om met hulle saam te werk en sy storie persoonlik te kom vertel. “Dit het opwindende deure geopen vir verdere impak en skakeling,” sê Van Wyk. “Ek’s ongelooflik dankbaar vir hoe ander by my storie aanklank gevind het.”

 

 

Van desperaatheid tot diepe transformasie 

Dit is byna ondenkbaar dat dieselfde jongman, deesdae ’n gerespekteerde leier op die US se Stellenboschkampus, eens sy lewe wou beëindig. As tiener op Malmesbury, was hy deurmekaar met dwelms en moes hy toekyk hoe sy broer deur dieselfde stroom meegesleur word. Sy broer se dood was ’n ontnugterende wekroep. “Ek het op hoërskool koers verloor. Ek het verlore en onwaardig gevoel, en het meer as een keer probeer selfdood pleeg,” verduidelik hy. “Dit het my laat besef hoe vinnig die lewe van jou af weggeneem kan word as jy op die verkeerde pad is.”

 

Hulle enkelma het onvermoeid gewerk om vir hom en sy broer te sorg, en Van Wyk het geweet hy moes sy lewe verander, anders sou hy haar breek. Terwyl hy eendag na sy gesig in die spieël gestaar het, het hy ’n besluit geneem wat alles sou verander: “Dis nie die einde nie. Ek sal nie meer ’n navolger wees nie. Ek sal lei,” het hy homself belowe.

 

Daardie besluit, wat nie uit selfversekerdheid nie, maar uit pure desperaatheid geneem is, het Van Wyk op ’n pad van diepe transformasie geplaas. Hy het van skool verander, leierskapsgeleenthede aangegryp, en stadigaan sy lewe begin herbou. Nou gebruik hy sy verhaal om aan ander te wys dat genesing moontlik is, en dat as jy vrede maak met waar jy vandaan kom, dit jou vlerke kan gee. 

 

 

‘Jy kan lei, en jy kan uitstyg’

Van Wyk is die ondervoorsitter van die US se Opvoedkundestudentekomitee en help medestudente om akademiese uitdagings te oorkom en die universiteitslewe te hanteer. Hy benader dié rol met diepe empatie en toewyding.

 

Buite die kampus werk hy saam met hoërskole aan die Weskus om leierskapswerksessies vir verteenwoordigende rade van leerders (VRL’e) aan te bied. Hy rig leerders af in openbare redevoering, help hulle oor praktiese kwessies nadink, en moedig hulle veral ook aan om in hulle eie vermoëns te glo. “Jy het nie geld of mag nodig om ’n impak te hê nie,” verseker hy hulle. “Jý kan die impak wees.”

 

Daarbenewens staan Van Wyk graad 12-leerders met hulle universiteitsaansoeke by – iets waardeur hy stokalleen moes worstel. Hy onthou hoe oorweldigend, verwarrend en eensaam hy deur die hele proses gevoel het, en doen nou alles moontlik om te sorg dat ander nié so hoef te sukkel nie. Hierdie werk neem hom soms ver buite sy gemaksone: Hy het gedurende die onlangse reses George en Groot Brakrivier besoek – plekke waar hy nog nooit vantevore was nie – om matrikulante met hulle tersiêre aansoeke te help. Die besoek was moontlik gemaak deur borgskappe wat hy op eie stoom gereël het. Terwyl hy studente hulle US-aansoeke help voltooi het, het hy sommer ook van die geleentheid gebruik gemaak om verhoudings met skole in die omgewing te begin bou om dalk in die toekoms VRL-leierskapswerksessies daar aan te bied.

 

Sy leierskapsreis hou aan uitbrei. Sy bemagtigingswerksessie vir jong leiers is selfs by vanjaar se Woordfeesprogram ingesluit. Van Wyk wil hê dat jongmense in die krag van hulle eie stemme glo. “Ek wil hê hulle moet besef dat jy kan lei en uitstyg, ongeag waar jy vandaan kom en wat jy deurgemaak het,” sê hy. “My werk is om die saadjie by jongmense te plant en hulle te wys dat leierskap nie oor titels gaan nie; dit gaan oor waagmoed. Ek herinner hulle daaraan dat hulle nie vir iemand anders hoef te wag om hulle gemeenskappe te kom red nie.”

Dra sy storie trots met hom saam

Dié bedagsame en nederige US-rolmodel het verlede jaar ’n lewensveranderende geleentheid ontvang toe US Internasionaal hom na Italië laat reis het om daar ’n somerskool by te woon. Dit was ’n onvergeetlike ervaring, sê hy. “Ek het altyd gedink oorsese reise is net vir sekere mense bedoel, maar daar staan ek toe in Italië en dra my storie trots met my saam!”

 

Een van sy trotsste oomblikke is egter veel persoonliker. Hy het die geld wat hy as voertuigbestuurder by US Internasionaal verdien het, gespaar om ’n binnetoilet vir sy familie te installeer – ’n baie nodige verbetering op die buitetoilet waarmee hulle jare lank moes klaarkom. “Dit klink dalk na iets klein, maar vir ons is dit enorm. Dit beteken waardigheid. Dit beteken verandering.”

 

Van Wyk is die eerste in sy familie om aan ’n universiteit te studeer – ’n mylpaal wat met groot trots, maar ook ’n mate van druk gepaard gaan. “Wanneer dinge moeilik raak, herinner ek myself: ‘Onthou jou naam, Van Wyk.’ Dan onthou ek wie ek is, die familie wat ek verteenwoordig, en die nalatenskap wat ek wil agterlaat.”

 

 

Die wortels van sy sukses

Hy eer sy ma, Lena van Wyk, as sy anker. “Sy is my grootste inspirasie. Sy het tuberkulose oorleef, as ’n skoonmaker gewerk en ons familie deur groot swaarkry gedra. Selfs in haar pyn het sy sterk gebly en aan my bewys dat ons omstandighede nie bepaal wie ons is nie. Haar veerkragtigheid, onvoorwaardelike liefde en stille opofferings het my die moed gegee om my lewe te verander en leierskap bo ellende te kies,” besin Van Wyk. “Elke tree wat ek gee, is ’n huldeblyk aan haar krag en die hoop wat sy by my gevestig het. Sy is die rede waarom ek ’n beter toekoms vir myself en ander wil skep.”

 

Hy is ook geseën met vriende wat hom plat op die aarde hou, en kampuspersoneel wat hom deur elke fase van sy akademiese reis begelei en nooit moeg word vir al sy vrae nie. “Sonder hulle sou ek nie hier gewees het nie,” sê hy. “Ek is trots op my reis by Maties.”

 

Sy boodskap aan medestudente wat ’n positiewe impak wil hê, maar nie weet waar om te begin nie? “Moenie wag vir inspirasie nie. Wéés die inspirasie. Jy hoef nie ál die antwoorde te ken nie. Vra net die regte vrae, en iemand sal jou in die regte rigting beduie. En die belangrikste is om nie ’n ‘nee’ as die einde van die pad te beskou nie. Laat toe dat dit jou skaaf; moenie dat dit jou stop nie. Jou stem maak saak. Jou storie maak saak. En iewers is daar iemand wat wag dat jy uitstyg sodat hulle kan weet hulle kan óók.”






Van ’n kamer in Helderberg-koshuis op Stellenbosch tot ’n produksiefasiliteit van 10 000 m2 in die Paarl. Van plaaslike markverkope tot ’n reeks van 25 verskillende produkte op landwye kleinhandelaars, gesondheids- en koffiewinkels se rak. Van een ondernemende ingenieurstudent tot ’n florerende maatskappy met 135 werknemers. Dít is die verhaal van ButtaNutt in, wel, ’n neutedop.

 

ButtaNutt spesialiseer in gesonde, volhoubare en omgewingsvriendelike plantgebaseerde produkte en is die geesteskind van Antoine van Heerden, ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US).

 

Benewens die neutbotters waarmee hulle begin het, verkoop die onderneming deesdae ook ’n verskeidenheid melk-alternatiewe (hawer-, amandel- en makadamiamelk), jogurt-alternatiewe, luukse neutmengsels en gesondheidsbeskuit. Te danke aan eksterne beleggersteun – eers deur PepsiCo in 2019, en meer onlangs ’n 54% aandelebelegging deur PSG – kon ButtaNutt oor die afgelope twee jaar ’n ultramoderne verwerking- en verpakkingsaanleg tot stand bring. Hulle vervaardig tans rekordvolumes, waaronder gemiddeld meer as 800 000 liter melk-alternatiewe per maand.

 

Ironies genoeg word ButtaNutt se gesondheidsprodukte nou verwerk en verpak in wat voorheen die Rembrandt-sigarethandelsmerk se finaleprodukstoor was, en ’n brandewyndistilleerdery voor dít. Nes daardie produkte, wil ButtaNutt ook graag ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika word.

Van klein begin ...

Die saadjie vir die onderneming is in 2012 geplant toe Antoine, in daardie stadium ’n derdejaarstudent in Meganiese Ingenieurswese, begin het om makadamianeute van sy ouers se plaas aan medestudente en die groter Stellenboschgemeenskap te verkoop. Met die hulp van sy suster, wat kookkuns studeer het, het hy neutbotters begin ontwikkel en dit eers in sy koshuiskamer en later in sy woonstel gerooster, gemaal en verpak, en by markte in en om Stellenbosch verkoop.

 

Nadat hy in 2013 gegradueer het, moes hy besluit of hy die volgende jaar met sy meestersgraad sou begin of eerder die onderneming verder wou probeer ontwikkel. “Ek het besluit om dit ’n jaar te gee en te kyk hoe dit ontwikkel,” sê Antoine. Hy het in daardie stadium ook sy sakevennoot, die Suid-Afrikaanse driekampatleet Dan Hugo, ontmoet, wat in die onderneming belê het.

 

Nogtans was dit ’n moeilike reis, en groei het met rukke en stote plaasgevind. “Dit het baie gesukkel in die eerste paar jaar, en ons moes baie leer,” onthou hy. “Toe ons byvoorbeeld ons eerste produkte aan Wellness Warehouse gelewer het, het ons nie geweet ons moet die strepieskodes voorsien nie. Toe koop ons maar ’n paar strepieskodes, plak dit op die produkte, en lewer dit die volgende dag weer af.”

 

ButtaNutt het in 2016 ’n Wes-Kaapse premierstoekenning vir die beste ontluikende landbouverwerkingsonderneming ontvang. Die onderneming het gedurende ontwikkeling ook vir 18 maande baat gevind by die leiding van die US Launchlab, die Universiteit se inkubator vir beginnersake.

... kom groot gewin

’n Geleentheid om makadamiabotter na die Verenigde State uit te voer met die doel om makadamiamelk daarvan te maak, was nie net ’n broodnodige hupstoot vir ButtaNutt nie, maar het hulle ook kans gegee om met hulle eie melk-alternatiewe te eksperimenteer. “Hoewel die onderneming as ’n neutbottervervaardiger begin het, was dit altyd ons ambisie om ook neutmelke te maak,” sê Antoine. “Ons het geweet dit is ’n groot kategorie, maar ons het nie besef hóé groot nie, en dit was net ’n kwessie van tyd voordat een van die groter spelers in die bedryf dit ook sou besef.” Toe hulle in 2021 hulle eerste melk-alternatiewe bekend gestel het, was die mikpunt 20 000 liter per maand. In Augustus 2025 het ButtaNutt ’n miljoen liter verwerk, verpak en versprei.

 

 

Nuwe aanleg nie om dowe neute

Die belegging in hulle nuwe aanleg was ’n groot sakerisiko, en die projekkoste was dubbel hulle jaarlikse omset, vertel Antoine, maar hulle is aangevuur deur die oortuiging dat die plantgebaseerde bedryf sal aanhou groei. “Die skuif na die nuwe perseel én nuwe verpakking (van plastiekbottels na Tetra Pak-boksies) het ons die geleentheid gegee om die produkte se prys met ongeveer 25% te sny, die raklewe van 6 tot 12 maande te verleng, en produksiekapasiteit te vervyfvoudig.”

 

Boonop is die maatskappy se omgewingsvoetspoor nou kleiner: Elektrisiteitsverbruik vir die vervaardiging van ’n liter melk is nou 40% minder, waterverbruik vir die skoonmaak van toerusting is 50% minder, en minder voertuie word vir die vervoer van materiaal na die fabriek benodig. 

Gesondheid uit SA grond uit

Antoine beskryf ButtaNutt as ’n eg Suid-Afrikaanse maatskappy. Hulle is die eerste plaaslike vervaardiger van hawermelk, en ook die enigste plaaslike verskaffer wat plaaslike produkte gebruik om makadamia- en amandelmelk te maak. Tot onlangs nog moes hulle hawer van Finland af invoer om aan die gluteninhoudsvereistes te voldoen, maar danksy nuwe kleursorteringstegnologie wat van kunsmatige intelligensie gebruik maak, kan plaaslike hawer nou doeltreffend gesorteer en gebruik word. “Dit is vir ons wonderlik om deur die plaaslike aankope van grondstowwe tot die plaaslike ekonomie by te dra,” voeg hy by.

 

“Ons glo in Suid-Afrika, ons is passievol oor Suid-Afrika, en ons wil sukses behaal in Suid-Afrika. Uitvoergeleenthede is ’n pluspunt, maar sukses vir ons beteken sukses in Suid-Afrika.”

Nog baie vernuwing aan die kom

Antoine meen ’n groot deel van ButtaNutt se groei oor die volgende vyf jaar sal spruit uit produkte wat hulle nog moet ontwikkel. “Ons maatskappy glo in innovasie. Ons kan vandag hierdie ou Rembrandt-pakhuis huur juis omdat ons met melk-alternatiewe begin innoveer het, en nie net by die neutbotters gebly het nie. Ons gebruik tans net 40% van die produksielyn se kapasiteit, so daar is ongelooflike groeipotensiaal.” 

 

ButtaNutt is nie van plan om op hulle louere te rus nie. “Net omdat ’n produk ’n topverkoper is, beteken dit nie dat daar nie ruimte vir verbetering is nie. Daarom is ontwikkeling en innovasie van die sleutelpilare van ons sakemodel,” sê Antoine. “Die bedryf is nog bitter klein, en ons moet nog ’n ver pad stap. Plantgebaseerde produkte vandag is reeds baie beter as tien jaar gelede, en dit kan nóg verbeter. Die uitdaging is om te bepaal hoe jy kan innoveer en aanhou produkte skep wat waarde toevoeg vir kliënte, goed is vir hulle gesondheid, en volhoubaar en omgewingsvriendelik is. Suid-Afrika het van die beste grondstowwe, en die produkte wat ons kan lewer, is wêreldwyd mededingend.”






Die Universiteit Stellenbosch se nuwe Mediese Morfologie-leersentrum (MMLS) bied ’n perfekte balans tussen tradisie en die toekoms, met die bekende elemente van ’n mediese museum en die voorpunttegnologie van ’n vernuwende leersentrum. Die sentrum, amptelik Afrika se grootste en mees gevorderde interaktiewe leerfasiliteit, stel ’n nuwe standaard vir die studie van die menslike liggaam.

 

Danksy die vermenging van ultramoderne tegnologie met tradisionele anatomiese hulpbronne is ’n besoek aan die getransformeerde Mediese Morfologie-leersentrum (MMLS) ’n interaktiewe ervaring wat studente op verskillende maniere oor die menslike anatomie laat leer. Die fasiliteit, wat in die Instituut vir Biomediese Navorsing van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) geleë is, is onlangs bekend gestel.

 

Die MMLS is méér as net ’n leersentrum; dit is ’n katalisator vir toekomsgerigte gesondheidsberoepslui, sê prof Karin Baatjes, FGGW se Visedekaan: Leer en Onderrig. “Die MMLS is ’n opleidingsfasiliteit waar leer nie meer passief gebeur nie, maar waar studente hulleself in die ervaring verdiep. Ons gebruik die jongste tegnologie en dink voortdurend nuut oor gesondheidswetenskappe-onderrig om studente die kompleksiteit van die menslike liggaam beter te laat verstaan,” verduidelik sy.

Eer tradisie, omarm tegnologie

In sy nuwe gedaante bied die MMLS die beste van die verlede én die toekoms. Die sentrum sit die dekades lange tradisie van anatomie-onderrig voort en sorg terselfdertyd vir vernuwing deur innovasie, tegnologie en studentegerigte leer.

 

Die fasiliteit se oorspronklike museumversameling het uit sowat 1 300 embriologiese, anatomiese, patologiese, forensiese, dierkundige en mediesegeskiedenismonsters bestaan, wat grotendeels tot vandag toe behoue bly. Daarmee saam gebruik die MMLS tegnologieë soos virtuele realiteit (VR), aangevulde realiteit (AR), 3D-drukwerk en interaktiewe raakpanele. Dié hulpmiddele stel studente in staat om sowel fisies as digitaal met anatomie om te gaan, wat die vak meer toeganklik en klinies relevant maak vir alle gesondheidsberoepe.

 

 

Nuwe manier van leer

Prof Simone Titus-Dawson staan aan die hoof van die Eenheid vir Digitale Onderwys en Innovasie in die Departement Gesondheidsberoepsonderwys. Haar span was daarvoor verantwoordelik om die MMLS met die nuwe interaktiewe tegnologieë toe te rus. “Die tegnologie help studente om nie meer soos ’n papegaai te leer nie, maar om op buigsame, herhaalbare en interaktiewe maniere met anatomie om te gaan. Sodoende word leer ’n veelsydige, multidimensionele ervaring,” sê sy. “Studente kan strukture van die makro- tot die mikrovlak bestudeer en histologie, algemene anatomie en patologie soomloos met mekaar verbind. Nóg ’n voordeel is die ontwikkeling van ’n ruimtelike begrip deur strukture in 3D te beskou of selfs op liggaamstelsels in te zoem. Waar studente met moeilike konsepte of terminologie sukkel, kan hulle so dikwels as wat nodig is na die inhoud terugkeer, en die digitale instrumente bied onmiddellike terugvoer en selftoetsgeleenthede.” 

 

Terwyl hulle die gedeelde digitale hulpbronne gebruik, kan studente boonop in spanne saamwerk, wat ’n goeie leerskool is vir die spanwerk wat in die praktyk van hulle verwag sal word. “Die hele benadering is bedoel om begrip te versterk en ons studente beter vir pasiëntesorg toe te rus,” sê prof Titus-Dawson.

 

“Dit is ’n voorreg om deel te wees van die MMLS se transformasie, maar dis beslis nie net een mens se handewerk nie,” voeg sy by. “Die MMLS is die gevolg van samewerking deur ’n beheerkomitee, en die toewyding van verskeie kollegas wat hulle kundigheid en passie in die projek gestort het. Ons ontvang ook sterk bystand van FGGW, wat noodsaaklik was om die visie ’n werklikheid te maak.”

Maak anatomie meer ‘werklik’ en relevant

Die Afdeling Kliniese Anatomie hou toesig oor die samestelling van monsters vir die MMLS en sorg dat dit met die kurrikulum geïntegreer en op innoverende maniere vir leer en onderrig gebruik word. Deur voortdurende navorsing en evaluering sorg die Afdeling ook dat die sentrum aan die voorpunt van anatomie-onderrig bly, sowel nasionaal as internasionaal.

 

Vir Janine Correia, senior dosent in Kliniese Anatomie, oorbrug die nuwe, dinamiese MMLS die gaping tussen tradisie en innovasie. “Dit is ’n eer om te kan bydra tot ’n projek wat die nalatenskap van anatomie-onderrig bewaar en terselfdertyd nuwe metodes bekend stel wat studenteleer en professionele ontwikkeling ondersteun,” sê sy. “Die kombinasie van fisiese monsters en moderne hulpmiddele maak anatomie meer ‘werklik’ vir studente en hou onderrig relevant en boeiend.”

 

 

Op groter teikengroep ingestel

As MMLS-koördineerder, verseker Amber Anderson dat sake aan die bedryfs- én strategiese kant vlot verloop. Dít sluit in die beplanning van opvoedkundige toere, studenteskakeling en uitreikaktiwiteite. “Ek hoop studente wat die MMLS besoek, stap hier uit met ’n beter begrip van die menslike liggaam, sowel as ’n waardering vir anatomie as die grondslag van die geneeskunde.” Die sentrum verwelkom ook ander besoekers, waaronder skoolleerders, besoekende akademici en die algemene publiek. Deur sy deure wyer oop te gooi, wil die fasiliteit ’n dieper bewustheid van anatomie, die mediese wetenskap en die ryke geskiedenis van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch skep. 

 

“Die einddoel is om te sorg dat die MMLS floreer as ’n sentrum van akademiese uitnemendheid én as ’n kern vir samewerking waar mense uit verskillende vakrigtings byeenkom,” sê Anderson ten slotte.

 

 






Deur ou fietse van die Universiteit ’n nuwe lewe te gee, het ’n impakryke Maties-projek op Worcester die wiele aan die rol gesit om ’n gesonde en aktiewe leefstyl aan te moedig en terselfdertyd billike toegang tot gesondheidsdienste en gemeenskapswelstand te bevorder.

 

In hulle soeke na maniere om ’n groter impak in landelike gemeenskappe te hê, het die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) nooit kon dink dat die antwoord in die Universiteit se ou fietsvloot opgesluit lê nie. Wat begin het as ’n eenvoudige idee om dié fietse op te knap het ontwikkel tot ’n projek wat toegang, mobiliteit en geleenthede vir leerders, studente en gesondheidswerkers ontsluit.

 

Die Maties Fietse-projek, wat in Mei vanjaar van stapel gestuur is, is die geesteskind van dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, en dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Die inisiatief het tot dusver 150 fietse aan skole, nieregeringsorganisasies (NRO’s) en voorgraadse studente in die Worcester-omgewing oorhandig. Dr Fish hou toesig oor die projek, met bedryfsbystand van haar kantoorbestuurder, Colleen Charters, en Roelof Loubser, mobiliteitsbestuurder by US Vervoerdienste.

Waarom Worcester?

“Die US, en veral FGGW, het ’n lang geskiedenis van uitreikwerk in landelike gemeenskappe waar dienslewering histories swak is,” verduidelik dr Fish. “FGGW het meer as ’n dekade gelede die Ukwanda Landelike Kliniese Skool op Worcester tot stand gebring. Hier word ons voorgraadse Gesondheidswetenskappe-studente in landelike gesondheidsfasiliteite geplaas sodat hulle praktiese ervaring kan opdoen en terselfdertyd ’n handjie kan bysit met dienslewering. As gevolg van ons landelike kampus het die US ’n besonder groot voetspoor op Worcester, so Maties Fietse is ’n voortsetting van die Universiteit se jare lange aktiwiteite en vennootskappe in die gebied.”

Gaan oor méér as vervoer

Die skole Worcester RK Primêr en Esselen Park Sekondêr, NRO’s wat gemeenskapsgesondheidswerkers ondersteun én die US se eie studente by landelike opleidingsfasiliteite het almal tot dusver al by die opgeknapte fietse baat gevind.

 

Vir die skole strek die voordele veel verder as mobiliteit. “Die fietse lei al klaar tot fietsryklubs, wat leerders aanmoedig om ’n gesonder en aktiewer lewe te lei,” sê dr Fish. “Dit bied leerders boonop die geleentheid om meganiese vaardighede te ontwikkel om die fietse in stand te hou, en bou leierskap, spanwerk en samehorigheid.” 

 

Cathy Roodman van Esselen Park Sekondêr bevestig die impak van die projek: “Die 20 fietse wat aan ons skool toegeken is, is nie net vervoermiddele nie, maar ’n sleutel tot geleenthede. Ons fietsryklub maak leerders opgewonde oor fisiese aktiwiteit, bou interpersoonlike en leierskapsvaardighede, en skep ’n sterker gemeenskapsgevoel.”

Gemeenskapsgesondheidswerkers kan op hulle beurt nou makliker groter gebiede dek en meer konsekwente kontak met inwoners behou. Dít sal tot beter geleenthede vir gemeenskapskakeling en -steun lei in omgewings waar toegang tot gesondheidsorg steeds beperk is.

 

En vir Gesondheidswetenskappe-studente maak die fietse dit makliker om na en van landelike opleidingsterreine te beweeg, wat hulle leerervaring verbeter en hulle bydrae tot plaaslike gesondheidsdienste verhoog

Studie lei dalk tot uitbreiding  
Dr Fish erken dat die vervoeruitdagings op die Suid-Afrikaanse platteland veel groter is as wat Maties Fietse ooit sal kan hanteer, en daar is nie tans planne om verder as Worcester uit te brei nie. Nietemin bied die resultate van ’n huidige navorsingstudie oor die groter impak van die projek dalk genoeg motivering om die projek in die toekoms verder te voer. 

 

As deel van die Pedal Forward-program, ondersoek prof Eileen Africa van FGGW se Departement Oefening-, Sport- en Leefstylgeneeskunde hoe fietse die vlakke van fisiese aktiwiteit onder skoolleerders beïnvloed. Die program maak fietsry stelselmatig deel van die daaglikse skoolroetine en moedig volhoubare gesonde gewoontes en selfstandigheid onder leerders aan. “Haar bevindinge voorsien dalk die bewyse wat as grondslag vir toekomstige uitbreiding kan dien,” sê dr Fish.






Refilwe Moreetsi se loopbaansuksesse in die lugvaartbedryf berei die weg vir aspirant-vrouevlieëniers wat ook hulle vlerke wil sprei.

 

Kleintyd in Tzaneen, Limpopo, was die wêreld van lugvaart ver verwyderd van Refilwe Moreetsi se daaglikse bestaan. Nogtans het ’n enkele vlug op sewejarige ouderdom haar hele lewensrigting bepaal. Deesdae is sy bekend as die eerste swart vrou wat die rang van senior eerste offisier by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) bereik het, en dien sy terselfdertyd as spesialis in uitputtingsrisikobestuur. Dít maak haar ’n baanbreker in ’n bedryf wat gekleurde vroue dekades lank uitgesluit het.

Baanbreker met Matiewortels

Haar pad na bo het by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Krygskunde begin, waar sy die streng grondskoolfase van haar militêre vlieëniersopleiding voltooi het. Die gespesialiseerde program in Wiskunde, Fisika en Lugvaart het sowel presisie as toewyding geverg. Danksy haar passie en dissipline slaag sy met lof en lê sy daarmee die grondslag vir wat sou kom. 

 

Moreetsi het haar opleiding by die Sentrale Vliegskool op Langebaan voortgesit, waar sy haar vlerkies op die Pilatus PC-7 ‘Astra’ verwerf het. “Dit was veeleisend en die slaagvereistes was hoog, en met reg, want in lugvaart is daar weinig ruimte vir foute,” sê sy. “Een van my helderste herinneringe is toe ek onderstebo gevlieg en Tafelberg so omgedop bekyk het.” Sy was daarna ook agter die stuurstang van die Oryx-helikopter op humanitêre sendings, waaronder noodleniging gedurende vloede, brande en vir soek-en-reddingsoperasies. 

’n Loopbaan gegrond op vooruitgang

Moreetsi het uiteindelik haar kinderdroom verwesenlik om vir die nasionale lugdiens te werk, waar sy die Airbus A320 gevlieg het. Haar tyd by SAA het al vir ’n hele paar eerstes gesorg: As die lugredery se eerste swart, vroulike senior eerste offisier, was sy deel van die eerste kommersiële vlug in Suid-Afrika wat deur ’n span van slegs Afrikavroue uitgevoer is. In 2022 word Moreetsi ook die eerste Afrikavrou by ’n plaaslike lugredery om ’n vlieëniersbestuurspos as spesialis in uitputtingsrisikobestuur te beklee – ’n noodsaaklike rol om te sorg dat vlieëniers geskik is om veilig te vlieg. “Uitputting het ’n direkte invloed op jou oordeelsvermoë, waaksaamheid en algehele prestasie. Uitputtingsrisikobestuur gaan daaroor om hierdie risiko’s te moniteer en te beperk om bedrywighede veilig te hou,” verduidelik sy.

 

“Vir my gaan my loopbaanmylpale oor veel meer as my beroep – dit simboliseer vir my vooruitgang, en bewys dat die deure ál hoe wyer begin oopgaan vir vroue in die algemeen, en gekleurde vroue in die besonder,” sê Moreetsi.

 

Nogtans was haar reis beslis nie sonder uitdagings nie. Veeleisende vlugskedules het dikwels haar werk-lewe-balans beproef. “Ek het geleer om vooruit te beplan, my vrye tyd verstandig te bestuur, en familie, gesondheid en selfversorging eerste te stel. ’n Goeie ondersteuningsnetwerk om op staat te maak is noodsaaklik.”

 

 

Glo vas in die gees van geleenthede

Dié inspirerende US-alumna wil graag aanhou om as mentor vir jong vlieëniers op te tree en tot ’n meer inklusiewe lugvaartbedryf by te dra. “My reis weerspieël die gees van transformasie en geleenthede in Suid-Afrika. Dat ek van ’n klein dorpie af kon kom en deel word van lugvaartgeskiedenis bewys dat die drome van jong Suid-Afrikaners, ongeag waar hulle vandaan kom, ’n betekenisvolle bydrae tot die nasie se vooruitgang kan lewer.

 

“Moenie dat vrees of twyfel jou ambisie smoor nie,” moedig sy jongmense aan wat ’n loopbaan in lugvaart oorweeg. “Lugvaart lyk dalk intimiderend, maar met harde werk en toewyding is dit haalbaar. Jou reis gaan nie net daaroor om vliegtuie te vlieg nie; dit gaan daaroor om te bewys dat jy in ruimtes hoort wat almal gedink het onmoontlik is.”






Die tiende jaarlikse Tuiskomsnaweek van die Universiteit Stellenbosch (11-13 September) het Maties van oor die hele wêreld teruggebring kampus toe vir drie feestelike dae van saamwees en nostalgie. Die naweek was vol onvergeetlike oomblikke, van mylpaalreünies en -herdenkings tot die Matielandkonsert, Teatervertoning en Wynmakersvertoning.

 

Teen die agtergrond van Erfenismaand het ons Tuiskoms ook Stellenbosch se ryke erfenis van stories, tradisies en lewenslange vriendskappe onderstreep, en ons herinner dat Maties reeds dekades lank hier wortelskiet. Alumni het saam hulle studentejare herleef, hulle gedeelde Matiegees gevier, en onthou waarom Stellenbosch altyd soos huis sal voel..






swipe down
powered by
SEND-IT.ME

Swipe left

swipe left To move to the next page

Swipe right

swipe right To move to the previous page
Please wait ...