INHOUD
Dapper denke kom in baie verskillende vorme. Soms is dit die vasberadenheid wat ’n atleet deur die laaste paar meter van ’n wedloop dra; ander kere is dit die moed om aan die lig te bring wat ander wou wegsteek, of ’n projek om kinders tuis en welkom te laat voel. Hierdie uitgawe vier die mense wat ons laat onthou dat dapperheid dikwels in jou denke begin nog lank voordat jy iets doen.
Ons lees byvoorbeeld van Amohetsoe Shale, die 22-jarige uitvinder wat lewensveranderende oplossings skep vir mense met geamputeerde ledemate op die Suid-Afrikaanse platteland. Haar werk is gegrond op deernis en hoop. Haar reis herinner ons daaraan dat dapper idees deure vir ganse gemeenskappe kan laat oopgaan.
Die voormalige Maties-baanuitblinker Gardeo Isaacs lê weer ’n ander soort dapperheid aan die dag. Om ’n brons medalje te wen as deel van Suid-Afrika se span in die 4 x 400 m-aflos vir mans by die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio was ’n oomblik wat deur jare se dissipline en opoffering voorafgegaan is. Nou werk hy vasberade voort om sy droom van ’n individuele goud op die wêreldverhoog te bewaarheid.
Vir ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh beteken dapper denke om moeilike vrae te vra, en te weier om weg te kyk. Sy werk het korrupsie aan die kaak gestel, verkwistende besteding stopgesit, en Suid-Afrikaners herinner waarom rekenskap saak maak. Sy oortuiging dat die joernalistiek ’n regverdiger samelewing help bou, is ’n kragtige voorbeeld van waagmoed wat almal baat.
By Laerskool Altena beoefen Mieke Hall haar eie tipe dapperheid wat op kreatiwiteit, omgee en samehorigheid berus. Deur leerders se eie tekeninge in kleurryke, verwelkomende muurskilderye te omskep, het sy die skool ’n plek help maak waarin kinders hulleself kan herken en kan voel hulle maak saak. Haar werk bewys dat verbeelding ook ’n dapper daad kan wees.
En dan is daar Luther Chipembere, wie se doelgerigtheid om hongersnood te bestry uit persoonlike ervaring spruit. As die eerste navorser van die Universiteit Stellenbosch om die FameLab Suid-Afrika-kompetisie te wen, help hy die wêreld nuut dink oor hoe ons voedselonsekerheid voorspel en hanteer. Soos sy werk ons wys, gaan dapper denke nie net oor innovasie nie, maar ook oor empatie en verantwoordelikheid.
Saam toon hierdie stories dat dapper denke nie tot een terrein of aan een tipe persoon behoort nie. Dit bestaan in atlete, navorsers, kunstenaars, joernaliste en jong entrepreneurs. Dit bestaan in elkeen van ons wat kies om iets beter te bedink, en dit dan ’n werklikheid te maak. Mag hierdie uitgawe jou inspireer om dapper te dink, met hoop en ’n hart vir ander.
Lekker lees!
Blanché de Vries-Bartes
Mieke Hall, ’n US-dosent in Visuele Kuns, het met leerders by Laerskool Altena saamgewerk om hulle eie tekeninge in kleurryke muurskilderye te omskep wat hulle lewens weerspieël. In die proses het sy haar PhD-hipotese bewys dat inklusiewe visuele materiaal leerders help tuis voel by die skool.
Mieke Hall, ’n dosent in Visuele Kommunikasieontwerp en Digitale Produksie aan die Universiteit Stellenbosch (US), dink al jare lank oor hoe kinders hulleself herken in boeke, klaskamers en ander ruimtes waar hulle die wêreld leer verstaan. En met haar onlangse projek by Laerskool Altena in die Strand, wat deel uitmaak van haar PhD-studie, het sy oorgegaan van dink tot doen: Saam met leerders het sy die skool se mure getransformeer met skilderye wat op die kinders se eie tekeninge, kulture en daaglikse ervarings gegrond is.
Die eindproduk is ’n lewendige uitbeelding van inklusiwiteit en samehorigheid wat aangevuur is deur haar akademiese navorsing, haar kunspraktyk, en haar oortuiging dat verteenwoordiging in vroeëkinderontwikkelingsruimtes saak maak. Die mure by Laerskool Altena spog nou met kleurryke tonele van kinders wat sokker speel, fietsry en lees teen ’n agtergrond van Suid-Afrikaanse proteas en strelitzias. Elke karakter lyk soos iemand wat hulle ken, of iemand wat hulle kan wees.
Dapper idee kom al ’n lang pad
Haar projek by Altena spruit uit ’n lang akademiese reis. As ’n voorgraadse student, het sy bestudeer hoe kinderboeke gedurende apartheid gebruik is om rassestereotipes vas te lê. Selfs ná 1994 het sy op subtiele dog voortdurende patrone afgekom wat getoon het dat die stories dalk verander het, maar baie van die visuele elemente nié.
Vir haar meestersgraad het sy ondersoek hoe transkulturele boeke karakters in alledaagse gemeenskaplike Suid-Afrikaanse ruimtes – winkelsentrums, bushaltes of ’n stad se strate – kan plaas eerder as in omgewings wat met spesifieke rasse verbind word. In klaskamers waar sy hierdie stories voorgelees het, het kinders dadelik daarop gereageer. Hulle het hulleself én mekaar daarin herken.
Haar PhD het dié ontdekking ’n stappie verder gevoer. Sy het drie laerskole, waaronder Altena, bestudeer en veral op hulle boeke, uitstallings en opvoedkundige plakkate gekonsentreer. Sy het kort voor lank besef dat die foto’s en prente teen die mure glad nie met die kinders se leefwêreld verband hou nie. Kommersiële plakkate en gelamineerde kaarte van Pinterest was oral te sien, en die boekrakke was vol ingevoerde stories uit Europa, met konings, koninginne en sneeubedekte landskappe. “Die omgewing het glad nie die leerders se diversiteit weerspieël nie,” sê sy. “Die onderwysers het gesê hulle het gewoon nie die hulpbronne of tyd om na meer verteenwoordigende materiale te soek nie.”
Skep saam ’n inklusiewe ruimte
Hall het dus besluit om kuns en ontwerp te gebruik om onderrigruimtes te skep wat inklusief is, leerders se identiteit bevestig, en op plaaslike omstandighede gegrond is. In Altena se geval het die skool haar gevra om hulle twaalf kernwaardes as die grondslag vir die ontwerp van die muurskilderye te gebruik. Sy het in sessies met die kinders elke waarde bespreek en met kultureel relevante prente toegelig. Daarna het die leerders tonele geteken om hulle vertolking van die waardes uit te beeld: ‘Vrygewigheid’ was byvoorbeeld twee leerders wat ’n toebroodjie deel.
Sy het die tekeninge gedigitaliseer en karakters en idees direk uit die kinders se werk geneem. Hall het toe haar aangepaste illustrasies op die mure geprojekteer en kleurareas met getalle aangedui sodat die leerders die skilderye self kon voltooi. Party het besluit om hulle eie kleurskemas te volg. Sy glimlag wanneer sy daaraan dink. “Die punt was deelname. Dat hulle dit geniet het, was die belangrikste.” Hoewel die inisiatief deel was van haar PhD-studie, het sy geweet sy kon nie as ‘die navorser’ optree nie. “Dit was belangrik om nie aan hulle voor te skryf hoe dit moes lyk nie. Ons het saamgewerk. Die gedagte was om dit as ’n span te skep.”
Toe Stephan du Toit van Prominent Paint in die Strand van Hall se inisiatief te hore kom, het hy die verf geskenk, wat die transformasie net soveel meer spesiaal gemaak het, sê sy dankbaar.
Diversiteit in volkleur
Verteenwoordiging is tot in die fynste besonderhede oorweeg. Ter wille van diversiteit is daar voorgestel dat een van die onderwysers met ’n hijab aan geskilder word. Hall het ook ’n wye verskeidenheid kryte in Suid-Afrikaanse velkleure vir die tekensessies in die klas gebruik. Tot in daardie stadium het baie kinders hulleself met ’n enkele perskekleurige kryt – sogenaamde “menskleur” – geteken. Die ontdekking van ’n volle kleurpalet was vir die kinders ’n openbaring. “Uiteindelik kon hulle hulleself teken soos hulle regtig lyk,” sê sy. “Dit was ’n kragtige oomblik.”
Hulle het doelbewus plaaslike plante en blomme, waaronder proteas, kosmos en strelitzias, vir die muurskilderye gekies. “Dit weerspieël hulle omgewing en is nie generies nie,” sê Hall.
Ook haar onderrigfilosofie word gerig deur ’n begeerte om outentiek te wees. In ’n era van kunsmatige intelligensie wil sy hê dat haar studente die waarde van proses, waarneming en hulle eie kreatiewe stem sal verstaan. “Enigeen kan KI gebruik, maar ’n mens kan gewoonlik sien dis KI,” sê sy. “Jou eie stem is wat jou onderskei. Dít is waarom ons tekeninge, sketsboeke, notas en waarneming van die wêreld beklemtoon. Dit bring diepte.”
Hall hoop die projek sal uitkring tot iets groter en dat dit dalk selfs by die US se projekte vir sosiale impak ingesluit word. Sy droom van spanne Ontwerp- en Opvoedkundestudente wat skole besoek, tekenwerksessies aanbied, en saam met leerders muurskilderye maak. Sy ontwikkel boonop tans ’n praktiese handleiding vir onderwysers met wenke oor hoe om ’n inklusiewe klaskamer te skep, hoe om visuele materiale te kies, en wat om in die ontwerp van muurskilderye te oorweeg. “’n Tipe beginnerstel,” verduidelik sy.
Die impak van illustrasie
Buite die akademie werk Hall ook as ’n vryskut-illustreerder en -ontwerper. Sy het al werk vir Huisgenoot, Durbanville Hills en United Airlines se aanboordtydskrif gedoen én ses kinderboeke geïllustreer. Haar lewe is ’n bont collage van kreatiwiteit: Benewens PhD-student en dosent is sy ook ma van twee jong kinders. “Koffie is wat my deurdra,” skerts sy.
Haar huis is vol boeke wat sy eens vir haar navorsing bymekaargemaak het en wat haar kinders nou saans lees. “Dis belangrik dat hulle hulleself én ander kulture in hulle leesmateriaal herken,” sê sy. Sy beperk skermtyd en verkies stories oor skilpaaie en dassies op Tafelberg bo internasionale franchises. Hall se herinneringe aan haar eie kindertyd is helder: haar pa wat daagliks op pad terug van die werk af vir haar ’n boek gekoop het, weeklikse biblioteekbesoeke – alles dinge wat haar lief gemaak het vir illustrasie. “Ek weet nie waar ek daarsonder sou gewees het nie,” sê sy.
Haar geloof in die stille krag van boeke, beelde en stories is waarom haar werk draai. Deur te help dat kinders hulleself teen hulle eie skoolmure uitgebeeld sien, wil sy graag iets blywend by die leerders skep – ’n gevoel van trots, dat hulle tuishoort, en dat enigiets moontlik is.
“Dit het so ’n groot impak op kinders,” sê sy. “As ons ’n kans het om ontwerp ten goede te gebruik, veral in Suid-Afrika, waar ons verandering so dringend nodig het, moet ons dit aangryp. Verteenwoordiging maak regtig saak.”
Die nasie het die waghondjoernalis Pieter-Louis Myburgh die afgelope dekade leer ken as nie net ’n uiters bekwame ondersoeker nie, maar ook ’n waagmoedige Suid-Afrikaner wat nie bang is om dieper te kyk om onreg in die samelewing oop te vlek nie.
Met sy unieke insig in Suid-Afrika se voortslepende krisis van staatskaping en korrupsie doen ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh impakryke werk. Danksy sy verslaggewing is staatskontrakte van miljarde rande gekanselleer, verskeie politieke hooggeplaastes hulle poste kwyt, en die publiek meer bewus van belangrike regerings- en korrupsiekwessies.
Sy werk word aangevuur deur sy liefde vir Suid-Afrika, sy bereidheid om dapper te dink, en sy oortuiging dat ondersoekende joernalistiek onreg in die samelewing kan ontbloot en verandering kan bring. “Dit is ons verantwoordelikheid om rekenskap te eis van diegene in beheer,” sê Myburgh. “Groot bedrae geld word aan die verskillende vlakke van regering toevertrou, en in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika moet daardie geld gebruik word om die onreg van die verlede reg te stel en ekonomiese projekte te ondersteun om die nasie vir almal te verbeter. As die geld verkwis word, benadeel dit ons samelewing.”
Die saadjie vir sy loopbaan as ’n ondersoekende joernalis is waarskynlik geplant toe hy die eerste keer All the President’s Men deur die joernaliste Bob Woodward en Carl Bernstein gelees het. Die boek beskryf dié twee se ondersoek na die Watergate-skandaal wat tot president Richard Nixon se bedanking gelei het. Dat deeglike joernalistiek tot die ondergang van die korrupte bekleër van straks die magtigste amp ter wêreld kon lei, het Myburgh geïnspireer. Kort nadat hy in 2009 sy honneursgraad in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, sluit hy hom dus by die redaksionele span van Beeld aan.
Sedertdien het hy al vir Rapport, News24 en mees onlangs vir Daily Maverick gewerk. Hy voltooi boonop sy Matie-kringloop deur nou ook as dosent in ondersoekende joernalistiek by die US klas te gee.
Onthulling op onthulling
Sy deurbraak was ’n onthulling oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se deelname aan die Slag van Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in Maart 2013, en hoe swak die Suid-Afrikaanse soldate vir die konflik voorberei en toegerus was. Danksy ’n Naspers-prys ter erkenning van sy werk kry hy die geleentheid om na New York te reis om ’n somerskool in ondersoekende joernalistiek aan Columbia-universiteit by te woon.
Dít was die begin van ’n hele rits waagmoedige projekte, en ’n ewe lang lys toekennings, waaronder Suid-Afrika se prestigeryke Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek, wat hy drie keer gewen het. Sy reeks onthullings oor ’n kontrak van etlike miljarde rande vir nuwe lokomotiewe by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het hom die Kuiper-prys in 2015 besorg. Vier jaar later palm Myburgh weer die toekenning in, dié keer vir die onthulling oor die Vrystaatse asbesoudit van R255 miljoen, wat op die inhegtenisneming en vervolging van die voormalige ANC-leiersfiguur Ace Magashule uitgeloop het. En in 2021 wen hy die prys vir die bekroonde Digital Vibes-reeks, wat gelei het tot die afdanking van destydse gesondheidsminister Zweli Mkhize. Hy was ook deel van die #GuptaLeaks-projek wat die Kuiper-prys in 2017 verower het.
Myburgh het reeds twee boeke, Gangster State (2019) en The Republic of Gupta (2017), die lig laat sien.
Al baie gesien, maar steeds geskok
Ondanks alles wat hy al gesien, gehoor en aan die kaak gestel het, was hy steeds geskok toe hy te midde van sy onlangse ondersoek na die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT) en dié se uitvoerende hoof, Tebogo Malaka, omkoopgeld aangebied is. Die voorval is op kamera vasgevang, en Daily Maverick het die beeldmateriaal vrygestel. “Die verkrygingskorrupsie gedurende die Covid-19-pandemie het my ook geskok. Dit was ’n nasionale krisisoomblik, en tog het mense miljoene rande gesteel,” sê hy.
Om voortdurend te doen te kry met ontstellende politieke knoeiery en mense wat in wese vir persoonlike gewin by arm mense steel, eis wel sy tol, erken Myburgh. En ongelukkig is daar nie genoeg steun vir ondersoekende joernalistiek nie. Hoewel dit lyk of die publiek hulle werk waardeer, is nie almal bereid om dit openlik te ondersteun nie, sê hy. “Dit is ’n onbegryplike en frustrerende situasie,” verduidelik Myburgh. “Daar is slegs ’n paar joernaliste in die land wat oor die vaardighede sowel as die geleenthede en finansiële ondersteuning beskik om ondersoekende werk te doen.”
Kry die basiese dinge reg
Om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring, is meer geld nodig om wetstoepassings-, ondersoek- en vervolgingsowerhede behoorlik toe te rus. “Hierdie entiteite is gedurende die staatskapingsjare uitgekalwer, en die regering moet ’n daadwerklike besluit neem om die stryd teen korrupsie te ondersteun deur agentskappe soos die Nasionale Vervolgingsagentskap, en veral die Ondersoekende Direktoraat Teen Korrupsie (IDAC) en die Valke, genoegsaam te finansier,” sê hy. “Suksesvolle ondersoeke en vervolgings kan as ’n afskrikmiddel dien.”
Hy reken ook die staatstenderstelsel moet herontwerp word om meer deursigtig te wees aangesien tekorte in verkrygingsmodelle te dikwels tot hoëvlakplundery, verkwistende besteding en swak dienslewering lei.
Reeds bewys dat dit werk
“Ondersoekende joernalistiek is nie net noodsaaklik vir demokrasie nie, maar kan ’n groot impak hê om samelewingsonreg aan die lig te bring en verandering te bewerkstellig. Dit is reeds bewys. Die werk wat ons doen, kan enorme positiewe gevolge hê as ons dit reg doen,” sluit Myburgh af. “Ek is lief vir Suid-Afrika, en ek hoop my werk kan die land ’n beter plek help maak.”
Wanneer die 22-jarige Amohetsoe Shale sê, "Die wêreld is nie gereed vir die impak wat NAVU daarop gaan hê nie," sê sy dit met 'n groot glimlag en 'n glinstering in haar oë. Dit spreek van die selfvertroue wat sy uit geleefde ervaring, deernis, baie vriendelikheid en haar kinderjare gekry het wat deurdrenk was van die gedeelde menslikheid van Ubuntu.
Amohetsoe is die jongste hoof- uitvoerende beampte (HUB) ooit van 'n afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch en sy lei haar maatskappy, NAVU, met 'n doelgerigtheid wat ver bo haar jare uitstyg. Sy was net 21 toe sy in 2024 NAVU in 2024 met die ondersteuning van die US LaunchLab (veral Nadine Price) en Innovus gestig het.
Haar beskrywing van NAVU lui soos volg: Navu is 'n protesese-innovasie-afwentelmaatskappy wat bekostigbare, lewensveranderende tegnologieë ontwikkel vir gemeenskappe wat dit die nodigste het. Ons glo dat almal die vryheid verdien om te beweeg, te leef en te floreer en daarom herdefinieer ons wat toeganklikheid in prostetiek beteken. Deur ingenieurswese, mensgesentreerde ontwerp en empatie te kombineer, poog ons om inklusiewe prostetiese oplossings te skep wat onafhanklikheid, mobiliteit en waardigheid herstel.
Selfs die maatskappy se naam dra betekenis — 'n verkorte samevoeging van haar ouers se name, NAledi en VUkile. "Ek wou iets uniek hê," sê sy, "maar ek wou ook die mense eer wat my grootgemaak het."
Amohetsoe se NAVU het die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys (EDHE) se streekskompetisie in die Wes-Kaap gewen en sy was 'n finalis in die nasionale kompetisie waar sy as die Top Vroulike Entrepreneur van die Jaar (2025) aangewys is. Sy het ook 'n tweede plek in die navorsingskategorie van die EDHE Intervarsity-kompetisie behaal en sy was algeheel vierde in die ABSA Innovasie-kategorie.
Dit het alles in Kei Road begin
Hoewel sy in Milnerton, Kaapstad gebore is, het Amohetsoe se storie regtig begin toe sy saam met haar gesin na Kei Road, 'n klein boerderygemeenskap naby King William’s Town in die Oos-Kaap, verhuis het. "My ma het 'n oopdeur-huis gehad en almal was welkom. Ons boer met vee en gewasse, leef van die land en deel met ons bure. Daar is geen vreemdelinge wat by ons huis instap nie," sê sy. "Almal is 'n tannie of oom."
Sy is die derde oudste van sewe kinders. Om die ouer suster van haar outistiese drielingbroers – waarvan een met 'n gestremdheid leef – te wees, is waar 'n klein saadjie om oplossings te vind, geplant is en wat in haar begin groei het.
Nadat sy aan die Kingsridge Hoërmeisieskool in King Williams Town gematrikuleer het, het die 17-jarige Amohetsoe vir haar BHSc Mediese Ortotika en Prostetika-graad aan die Walter Sisulu Universiteit in Mthatha ingeskryf. Sy het vier jaar later as topstudent in haar klas cum laude gegradueer met 'n duidelike visie en plan om 'n werklike verskil in die lewens van pasiënte met gestremdhede te maak.
Om met werklike pasiënte by die George Mukhari- en Frere-hospitaal as deel van haar kliniese opleiding in haar finale jaar te werk, het haar die harde werklikheid laat raaksien wat baie mense in staatsfasiliteite in Suid-Afrika in die gesig staar, waar beperkte toegang tot moderne prostetiese tegnologie hulle sonder behoorlike mobiliteit laat en hulle op krukke moet staatmaak.
Daar was veral een pasiënt wat alles vir haar verander het: 'n bejaarde geamputeerde van Matatiele wat elke keer vyf uur lank moes reis om by die kliniek uit te kom én op pad in 'n hospitaal moes oorslaap. "Hy het altyd met dieselfde klagte by die kliniek aangekom: die ongemak om in die landelike gebiede rond te beweeg en sy prostese wat in die gras vassit. En hy het rugpyn gehad omdat hy sy heup opgetrek het wanneer hy stap om te probeer vergoed vir die gebrek aan ondersteuning en stabiliteit in sy prostetiese been. Ek onthou die teleurgestelde uitdrukking op sy gesig toe hulle vir die derde keer sonder enige verbetering in sy loop moes terugdraai huis toe."
En in daardie oomblik het Amohetsoe besluit sy gaan die koers van mense soos hierdie verander. "Ek het besluit mobiliteit moet nooit afhang van hoeveel geld jy het nie. Ek het skaam gevoel om te weet daar is tegnologie beskikbaar in Suid-Afrika om hulle te help, maar hulle sou nooit toegang daartoe kry nie omdat hulle dit nie kon bekostig nie.
"Die knie is een van die ingewikkeldste gewrigte in die liggaam," gaan sy voort. "Dit is verantwoordelik vir skokabsorpsie, stabiliteit en die gehalte van mobiliteit wat 'n geamputeerde het. Tog het baie geamputeerdes slegs toegang tot die minimum, wat hulle lewensgehalte ernstig benadeel. Dit is die hartseer werklikheid in Suid-Afrika. Een studie het getoon dat tot 60% van geamputeerdes in die land nie toegang tot prostesis het nie, met koste en funksionaliteit wat die grootste hindernis is."
NAVU het ontstaan omdat, soos Amohetsoe dit stel, sy geweier het om te aanvaar dat 'n geamputeerde se mobiliteit, en dus hulle bestaan en onafhanklikheid, van hulle bankbalans moet afhang. "Ons het begin om my navorsing oor bekostigbare, hoogs funksionerende prostetiese knieë in iets te omskep waartoe mense werklik toegang kan kry. NAVU is ons belofte: om duursame, plaaslik vervaardigbare prostetiese knieë te ontwerp wat mobiliteit herstel sonder om gesinne bankrot te maak."
Van wetenskap tot ingenieurswese
Nadat prof Kristiaan Schreve, die hoof van SU se Instituut vir Biomediese Ingenieurswese, ingestem het om haar studieleier te wees, het sy die Universiteit Stellenbosch gekies en vir haar MIngSc in Biomediese Ingenieurswese (NQF 9) ingeskryf. Terselfdertyd het daar 'n onverwagse geleentheid oor haar pad gekom wat sy aangegryp: 'n plek in 'n Innovasie- en Entrepreneurskap-in-Praktyk-program in 'n Streekskonteks (Utforsk-projek) aan die Wes-Noorweegse Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe.
Sy het van Maart tot Mei 2025 haarself in 'n praktykgebaseerde leerervaring verdiep, waar sy binne 'n gesondheidstegnologie-inkubator in Noorweë gewerk het en dosyne vroeë-fase mediese afwentelmaatskappye ondersteun het. Hierdie omgewing het haar entrepreneursinstinkte en haar begrip van innovasie in globale kontekste verskerp, wat haar internasionale netwerkgeleenthede gebied het. Boonop het dit haar visie vir NAVU uitgebrei om behoorlike oplossings vir geamputeerdes in haar geliefde geboorteland te bou.
Leef in die toekoms
Amohetsoe en haar span het sedert haar internskap reeds verskeie prototipes gebou om op duursaamheid, stabiliteit, landelike terreinprestasie en plaaslike vervaardigbaarheid te verbeter. "Ons het op prestasie in werklike landelike omgewings, en nie net die laboratorium nie, gefokus. Ons het met klinici gekonsulteer, terugvoer van geamputeerdes ontvang, en elke feit vasgestel — en herdefinieer hoe ons kenmerke soos duursaamheid, maklike instandhouding en verstelbaarheid prioritiseer." Vandag het haar projek 'n volwaardige afwentelmaatskappy geword wat prototipes ontwerp en hoëfunksionerende prostetiese knieë toets vir R7 500, 'n klein fraksie van die R60 000-prys wat vandag die heersende prys in die bedryf is. Wat meer is, is dat hierdie knieë plaaslik vervaardig en geskaal kan word.
Te oordeel na die glans in haar oë wanneer sy oor alles wat voorlê, praat (behalwe haar welverdiende vakansie in Kei Road, waarvoor sy nie kan wag nie!), lyk NAVU se toekoms belowend. Met samewerking in die bedryf, potensiële beleggers en 'n groeiende ondersteuningsnetwerk, is hierdie klein maatskappy op koers om 'n internasionale sensasie te word.
Haar raad aan jong entrepreneurs (in haar eie woorde) is die volgende:
"Praat baie met mense. Entrepreneurskap is nie 'n solo-naelloop nie. Dit is 'n gesprek met gebruikers, mentors, verskaffers, finansierders en vennote. Vroeë en gereelde gebruikersterugvoer spaar jou maande se oordoen. Vind mentors wat jou vir mylpale aanspreeklik hou en wat jou aannames uitdaag. Wees finansieel kreatief: Gebruik jou eie geld waar jy kan, maar weet wanneer om finansiering te bekom. Laastens, bou met nederigheid en doelgerigtheid en onthou dat jou produk baie van jou gebruikers se daaglikse lewe wesenlik sal beïnvloed. Daardie verantwoordelikheid moet elke besluit wat jy neem, lei!"
Die wêreld is dalk nie gereed vir die impak wat NAVU gaan hê nie, soos Amohetsoe tereg sê, landelike Suid-Afrika is al lankal gereed. En Amohetsoe Shale en haar span by NAVU lei die weg.
’n KI-aangedrewe innovasie deur ’n Stellenbosse PhD-navorser voorspel kostekorte sodat besluitnemers betyds kan ingryp en ’n krisis afweer. Die relevansie van dié uitvinding vir ons vasteland en die tyd waarin ons leef, het ook die beoordelaars van FameLab Suid-Afrika beïndruk.
Luther Chipembere het in September die eerste navorser van die Universiteit Stellenbosch (US) geword om die FameLab Suid-Afrika-kompetisie te wen. Sy KI-aangedrewe ‘digitale superbrein’ wat hongersnood kan voorspel voordat dit gebeur, het almal gaande gehad.
FameLab is ’n toonaangewende wêreldwye platform vir ontluikende wetenskapkommunikeerders waar nuwelingnavorsers hulle werk binne drie minute aan ’n gehoor moet verduidelik. Die aanbiedings word op grond van inhoud, duidelikheid en charisma beoordeel.
Chipembere is ’n doktorale student in Landbou-ekonomie en Kunsmatige Intelligensie. Hy gebruik masjienleer om die digitale superbrein met historiese data oor droogtes, reënvalpatrone, voedselpryse, konflik en oorlog op te lei. Met elke datastel raak die model vaardiger om vroeë waarskuwingstekens van voedselonsekerheid op te spoor, wat beleidmakers tyd gee om in te gryp voordat dit in ’n krisis ontaard.
Werp lig en red lewens
Dit is nie toevallig dat hy voedselsekerheid as sy navorsingsgebied gekies het nie – dis vir hom ’n persoonlike saak. “Ek kom van Zimbabwe, wat eens as die broodmandjie van Afrika bekend was. Maar iewers langs die pad het dít verander. Ek wou verstaan wat skeefgeloop het en wat daaraan gedoen kan word. Dít is waarom ek gekies het om voedselsekerheid my navorsingsonderwerp te maak.”
Chipembere benadruk dat die instrument nie net vir besluitnemers bedoel is nie, maar ook om hongersnood aan die publiek te verduidelik. “Mense sukkel dikwels om te snap wat dit verg om hierdie tipe probleem op te los. Hierdie model help vereenvoudig die konsep en verdiep begrip.”
Wat sy uitvinding van ander onderskei, is hoe proaktief dit te werk gaan. In plaas daarvan om te wag dat hongersnood die koerantopskrifte haal, voorspel die instrument kostekorte. “Dit gaan daaroor om hongersnood te voorspel voordat dit begin sodat beleidmakers betyds kan optree om lewens te red,” sê hy. “Hongersnood is nie altyd ’n prioriteit nie. Maar elke sekonde wat ons laat verbygaan sonder om besluite te neem stel mense se lewens in gevaar. Ek wil hê hierdie navorsing moet ons reaksie op hongersnood versnel sodat dit kan lewens red.”
Afrikastemme maak saak
Benewens sy PhD-navorsing werk Chipembere ook as ’n administrateur by die Afrika Doktorale Akademie in US Internasionaal se Sentrum vir Vermoëbou in Afrika, waar hy doktorale onderwys oor die hele vasteland help versterk. “My werk bring my in aanraking met mense uit Ingenieurswese, Biochemie, Landbou en vele ander vakrigtings,” sê hy. “Al daardie verskillende sienings maak my ’n beter navorser.”
Chipembere het Suid-Afrika aan die einde van November by die internasionale FameLab-eindronde by die Europese Organisasie vir Kernnavorsing (CERN) in Switserland verteenwoordig. Hoewel hy nie as wenner daar weg is nie, beskryf hy die ervaring as ’n eer en ’n geleentheid om Afrikawetenskap op die wêreldverhoog te plaas. “Afrikastemme kry nie altyd die aandag wat dit verdien nie, maar dít beteken nie dis nie goed of duidelik genoeg nie,” sê hy. “Ek hoop dat my teenwoordigheid daar die boodskap help oordra het dat Afrikanavorsers en Afrikastemme saak maak vir wêreldwetenskap.”
Hy hoop ook sy reis sal ander inspireer. “Ek wil hê dat jong navorsers sal standpunt inneem en verantwoordelikheid vir hulle eie wetenskaplike stemme sal aanvaar. Ons het meer daarvan nodig.”
FameLab goeie kans vir bande bou
Een van die waardevolste aspekte van FameLab was die geleentheid vir skakeling en die gemeenskapsgevoel wat dit geskep het. “Navorsing kan eensaam wees. ’n Mens is dikwels maar op jou eie – in jou uitdagings én jou deurbrake,” sê hy. “Maar wanneer jy ander ontmoet wat in dieselfde fase van hulle loopbane is, besef jy hulle gaan deur soortgelyke ervarings. En jy leer ook baie uit hoe hulle dinge beskou en doen.
“Om mense te leer ken, by hulle te leer, en geleenthede vir samewerking te ondersoek – dít was vir my die kern van die kompetisie.”
Suid-Afrikaners se deurlopende stryd teen misdaad het eerstejaar- elektriese en elektroniese ingenieurswese-student, Tumelo Mokoena, geïnspireer om SafeGuard Technologies te ontwerp – ʼn innovasie wat van outonome hommeltuie gebruik maak om gemeenskapsveiligheid te verbeter. Sy werk het onlangs vir hom ʼn plek onder Suid-Afrika se top 10 innoveerders by die 2025 YouthX Nedbank-toekennings losgeslaan.
SafeGuard Technologies is gebore uit verlede jaar se skerp toename in klein misdaad waaronder studente van die Universiteit Stellenbosch (US) gely het, met inbegrip van ʼn hegte vriend van Mokoena, wat gewelddadig beroof is. Die voorval het hom aangespoor om in te skryf vir die Stellenbosch Network se Idees vir Verandering Sosiale Innovasie-uitdaging, vasbeslote om ʼn oplossing te vind wat ʼn werklike verskil sou maak.
“Ek wou iets prakties bou, wat studente kon help om veiliger te voel en wat aan veiligheidspanne beter hulpmiddels sou bied,” sê Mokoena, nou die HUB (hoof- uitvoerende beampte) van SafeGuard Technologies.
Saam met mede- US-studente Hangandiiwe Mamphaga (BCom [Landbou-ekonomie]), Alex Warrington (BIng [Meganies]), Nokthula Zinzi Mdhluli (BSc [Rekenaarwetenskap]) en Eesa Sulaiman (BIng [Elektries en Elektronies]), het Mokoena ʼn proaktiewe reaksiestelsel ontwerp, wat deur kunsmatige intelligensie (KI) aangedryf word en wat outonome hommeltuie ontplooi sodra ʼn voorval waargeneem word.
“Ek het dit nog altyd geniet om goed te maak en moontlikhede te verbeel,” sê hy. “In my grootwordjare het ek graag flieks soos Interstellar en anime-programme soos Naruto en Black Clover gekyk. Dit wys mense wat die onmoontlike doen – wat hulle perke oorskry. Daardie soort verhaalkuns het my besiel om te skep en nuwe goed te probeer. Dit het reg gevoel om ingenieurswese op Stellenbosch te studeer, omdat dit vir my die instrumente gee om my idees ʼn werklikheid te maak.”
Mokoena glo dat universiteite, munisipaliteite, landgoedere en gemeenskapsveiligheidsorganisasies die meeste nut uit die tegnologie sal put.
“Hierdie instellings het reeds veiligheidspanne, maar hulle ontbreek hulpmiddels vir vinnige reaksie en intydse sigbaarheid. Ons hommeltye sal aan hulle vinniger reaksietye en beter inligting gee, sodat hulle mense meer doeltreffend kan beskerm.”
Die span is tans besig met die bou van hulle eerste funksionele prototipe, saam met medewerkers wat die toetsing van die apparatuur en die vlugbedrywighede ondersteun. “Ons het ons eerste hommeltuigdemonstrasiemodel op 25 November voltooi en is besig met nog toetse om die stelsel te verfyn. Ons hoop om teen die einde van die jaar ʼn volledige weergawe gereed te hê.”
Mokoena se langtermynvisie is om SafeGuard, teen die tyd dat hy klaar is met sy studies, te ontwikkel het tot ʼn ten volle lewensvatbare maatskappy en die voorkeurkontakpunt vir lugsekuriteit in Suid-Afrika, en uitendelik regoor Afrika.
Mokoena se ambisie is om die voorste verskaffer van lugsekuriteitsoplossings in Suid-Afrika en uiteindelik regoor die vasteland te word.
“Die volgende vier jaar gaan uitdagend wees, maar ons is besig om baie te leer en ons bou stap vir stap. Die doelwit is om met beide ʼn produk en ʼn maatskappy wat op hulle eie kan staan, te gradueer. Ons wil graag hê dat ons tegnologie moet help om misdaad in die gemeenskappe wat deur ons bedien word, te verminder en om ʼn betroubare, aanpasbare sekuriteitsnetwerk op te bou waarop mense kan vertrou.”
Vir jong innoveerders wat voel dat hulle dalk die volgende groot idee het, is Mokoena se raad eenvoudig: waag die sprong.
“Innovering is mededingend en moeilik, maar dit is die moeite werd. Selfs al misluk jy, is dit beter om te probeer as om saam te leef met die wat as. Jy leer deur te doen, nie deur te wag nie.”
Die voormalige US-studente-atleet Gardeo Isaacs het Suid-Afrika se span in die 400 m-aflos vir mans ’n plek op die podium in Tokio help besorg. Nou is hy vasberade om aan te hou werk om sy droom van ’n individuele medalje op wêreldvlak te bewaarheid.
Om ’n brons medalje te wen as ’n lid van die 4 x 400 m-aflosspan by die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio in September was ’n loopbaanhoogtepunt vir die voormalige Maties-baanuitblinker Gardeo Isaacs. Met ’n tyd van 2:57.83 het sy span derde geëindig en net-net silwer misgeloop. Daarmee het hulle ’n agt jaar lange medaljedroogte vir Suid-Afrika by dié kampioenskap gebreek.
Isaacs, wat die eerste skof in die uitdunne gehardloop het, beskryf die oomblik as onwerklik. “Maar toe ek eers die medalje in my hand vashou, het ek geweet al die harde werk en opofferings was die moeite werd.”
Die aflosspan het ’n uitsonderlike jaar agter die rug nadat hulle in Mei goud verower het by die Wêreldafloskampioenskap in China – ’n verbetering op die silwer medalje wat hulle by dieselfde byeenkoms verlede jaar in die Bahamas gewen het.
Om saam met Suid-Afrika se Olimpiese gouemedaljewenner en 400 m-wêreldrekordhouer Wayde van Niekerk te kon hardloop, was nóg ’n hoogtepunt vir die 26-jarige Isaacs, wat self in 2025 sy beste vertoning tot nog toe gelewer het. Hy het ’n nuwe persoonlike rekord van 45:02 in die individuele 400 m-item opgestel. Hierdie onlangse prestasies het sy loopbaan as ’n internasionale atleet ’n hupstoot gegee. As ’n voltydse atleet, ding hy in die Europese somer op eie onkoste in Europa mee. Hiervoor maak hy staat op uitnodigings na atletiekkragmetings, en ’n plek op die podium.
Opgelei om uit te styg
Isaacs het in 2022 ’n BCom in Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. As ’n studente-atleet, was hy deel van Maties Sport se Hoëprestasieprogram, wat hom ’n stewige grondslag gebied, aan ’n professionele omgewing blootgestel, en op senior en elite-vlak help presteer het. Hy was in 2019 die Suid-Afrikaanse kampioen in die 400 m en het ook by die Wêrelduniversiteitspele brons in die 400 m gewen. In 2024 het hy Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig.
’n Tekort aan ondersteuning is die grootste uitdaging om ’n beroepsatleet in Suid-Afrika te word, glo hy. “Atletiek word nie so goed soos hoofstroomsport ondersteun nie en kry nie altyd die erkenning wat dit verdien nie. Maar ons werk net so hard soos enige ander sportlui in Suid-Afrika,” voeg hy by.
Balans en volharding
Isaacs oefen ses dae per week. Dit sluit in baansessies met sy afrigter, Heinrich Fortuin, by Coetzenburg op Stellenbosch – wat hy steeds as sy atletiektuiste beskryf – sowel as gim-, fisioterapie- en herstelsessies. “Die kuns is om jou lyf so ver moontlik uit te daag, maar te weet wanneer om te stop sodat jy nie beserings opdoen nie,” verduidelik hy. “Ek is op die ouderdom wanneer die meeste 400 m-atlete hulle piek bereik. Dit is die beste jare; die jare wat jy nooit weer sal terugkry nie. So, dit is baie belangrik om jou lyf op te pas.”
Sy droom is om op die podium te staan vir ’n individuele item op wêreldvlak. “Die lewe van ’n atleet gaan oor volharding. Hou aan om hard te werk, hou aan om aan daardie deur te klop, en dit sal uiteindelik vir jou oopgaan. Elkeen het sy eie tyd, en myne is aan die kom. Ek moet net geduldig wees, die werk doen, en my afrigting en my lyf vertrou.”
Aan die einde van Oktober het die Universiteit Stellenbosch se slimstes by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) byeengekom vir die 2025 Toekennings vir Uitnemendheid in Navorsing en Innovasie – 'n aand wat feesviering, besinning en kameraadskap gekombineer het. Die tema was "Kennis omskep in volhoubare oplossings".
Die toekennings erken visionêre wat denke verander en oplossings vorm. As 'n weerspieëling van die tema staan vanjaar se handgemaakte trofeë, uit hergebruikte plastiek vervaardig deur Lily Loompa, as simbole van volhoubare kreatiwiteit – 'n bewys dat uitnemendheid en volhoubaarheid bymekaar hoort.






Please wait ...