
INHOUD
01 Van die redakteur
02 Student se outobiografie vertel van selfaanvaarding, volharding en moed
03 Die US se eie menslike robot in wording
04 Matie-alumnus prop versekeringsgaping met digitaal aangedrewe Pineapple
05 Hardekraaltjie-begraafplaasprojek herwin verlore herinneringe en spasies
06 Foto-oomblikke













Beste leser,
Met hierdie jongste uitgawe van Matieland is ons opgewonde om ’n tema te verken wat sowel diep persoonlik as universeel relevant is, naamlik “Die vorming van identiteit”.
In universiteitsverband is identiteit ’n dinamiese en immer ontwikkelende krag. Dit word gevorm deur nie net die individuele ervarings van ons studente, akademici, alumni en personeel nie, maar ook deur die gesamentlike ervarings wat ons as ’n gemeenskap definieer. Deur persoonlike groei en die strewe na kennis word ons identiteit voortdurend hervorm en versterk.
Met die gedagteprikkelende artikels, onderhoude en stories in hierdie uitgawe wil ons jou graag laat besin en gesels oor hoe elkeen van ons tot die groter identiteit van hierdie instelling én die wyer wêreldgemeenskap bydra. Die vorming van identiteit is ’n reis waarvan ons almal deel uitmaak, hetsy deur akademiese prestasies, persoonlike verhale, of betrokkenheid by die samelewing.
Namate jy deur die uitgawe lees, nooi ek jou om oor jou eie reis te besin. Dink na oor die Universiteit Stellenbosch (US) se invloed op die voortdurende proses om te vorm wie jy is en wie jy graag wil word.
Dankie vir jou voortgesette steun vir Matieland. Kom ons bou verder saam aan ’n onmiskenbare US-identiteit wat getuig van ons kenmerkende waardes, strewes en diversiteit.
Blanché de Vries-Bartes



Soms móét ’n mens terugkyk, al is dit seer, sodat jy kan vorentoe kyk en jouself ten volle aanvaar. Dít is presies wat Jess van der Merwe geïnspireer het om haar onlangs gepubliseerde outobiografie Broken and Beautiful te skryf.
Vir Van der Merwe breek die hoogtepunt van gradedag in Maart 2025 aan wanneer sy haar meestersgraad in Taalwetenskap van die Universiteit Stellenbosch sal ontvang. Nietemin het sy ook al haar lot laagtepunte gehad. Spastiese hemiplegiese serebrale verlamming is op die ouderdom van net 18 maande by haar gediagnoseer wat swakheid en spierstyfheid aan die regterkant van haar lyf veroorsaak het.. Sy moes herhaalde operasies ondergaan om haar spiere en senings te strek. Die afgelope aantal jaar het sy ook las van herhalende toevalle, wat dokters reken die gevolg van veelvuldige sklerose kan wees.
Die 24-jarige se outobiografie is ’n treffende verhaal van haar reis om beheer te neem oor haar lewe, vir haarself voorspraak te doen, en krag te put uit ander se hulp. Haar ervarings om die uitdagings van ’n lewe met serebrale verlamming en ander gesondheidsprobleme te bowe te kom was haar beweegrede om Broken and Beautiful te skryf.

“Ek het gevoel asof niemand werklik verstaan wat iemand met serebrale verlamming alles moet verduur nie. Ek wou oor my reis van veerkragtigheid en selfaanvaarding skryf om ander te inspireer om hulle eie probleme te takel,” verduidelik Van der Merwe. “Deur van my kwesbaarhede, terugslae en oorwinnings te vertel, wou ek wys dat daar selfs op die stukkendste plekke iets moois te vind is. Deur my boek wil ek graag ’n stem gee aan diegene wat voel hulle is onsigbaar. Ek wil hulle aan hulle inherente waarde herinner en ’n gevoel van samehorigheid en begrip skep.”
Om Broken and Beautiful te skryf én te illustreer was ’n diep transformerende ervaring. “Dit het my in staat gestel om oor oomblikke van pyn, oorwinning en kwesbaarheid te besin en dit te verwerk, wat my nuut laat dink het oor my pad tot hier en oor hoe ek myself sien. Deur hierdie kreatiewe proses het ek elemente van krag, empatie en doelgerigtheid in myself ontdek waarvan ek dalk nie voorheen ten volle bewus was nie,” sê sy. “Dit het my opnuut laat besef dat onvolmaaktheid nie ’n swakpunt is nie, maar deel van die menslike ervaring. Ek het myself leer sien as nie net iemand wat baie deurgemaak het nie, maar iemand wat met moed en grasie floreer.”
Nietemin is die doel van die boek ook om diegene sónder gestremdhede uit te daag om hulle sienings van gestremdheid te heroorweeg, stereotipering of bejammering te vermy, en ’n dieper begrip en waardering vir die diverse ervarings in die gestremde gemeenskap te ontwikkel, voeg Van der Merwe by. “Ek wil hê lesers moet besef dat gestremdheid nie grense stel aan ’n vol en sinvolle lewe nie – dis bloot ’n ander manier om die wêreld te beleef, dikwels met ongelooflike krag, aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Ek wil hê mense sonder gestremdhede moet weet ons is individue met strewes, drome, uitdagings en oorwinnings – nes enigiemand anders.”
Sy gaan voort: “Ek hoop ook die boek skep empatie en moedig mense aan om hulle vooroordele te bevraagteken. As lesers die boek neersit met ’n gevoel van bewondering en respek vir die volharding wat dit van ons verg om outentiek te leef ongeag ons uitdagings, het ek bereik wat ek wou. Maar straks belangriker is dat ek hoop die boek inspireer hulle om ook oor hulle eie lewe te besin, en te erken dat daar ook in húlle gebrokenheid, wat dit ook al is, veerkragtigheid en skoonheid opgesluit lê.”
Jess van der Merwe bewys dat dit nie ’n teken van swakheid is om jouself kwesbaar genoeg te laat wees om jou verhaal met ander te deel nie; dit is eerder ’n geskenk aan die wêreld – ’n geskenk wat kan inspireer, troos en bemagtig.



Die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) beplan om die internasionale terrein van humanoïede robotika te betree met die bou van ’n modulêre navorsingsplatform in mensvorm.
Die mensrobot, waaraan die Departement sedert Julie 2024 werk, bestaan tans uit ’n funksionele bolyf met ten volle werkende arms en hande. Die volgende navorsingsfase sal konsentreer op die ontwikkeling van aandrywers vir die bene om die robot tweevoetig te laat stap.
“Die robot kan alle soorte menslike beweging naboots,” sê dosent dr William Duckitt, wat aan die stuur van die projek staan. “Ons volgende stap is om van die gevorderde sagtewaretegnologie in te span wat groot maatskappye gebruik om ons ontwerp te outomatiseer en ’n stelsel te skep wat in ons omgewing sal werk.”
Volgens Duckitt word mensrobotte meestal gebruik om take te verrig in omgewings waar mense gewoonlik werk en funksioneer. Hulle kan byvoorbeeld beheer neem in gevaarlike scenario’s, vervaardigingstake verrig, en bejaardes bystaan. “Die robotiese toekoms is hier, en groot internasionale tegnologiemaatskappye begin nou almal hierdie robotte bou. Dit is nie vergesog om aan te neem dat die wêreld in die volgende aantal jaar van persoonlike robotte sal begin gebruik maak nie,” verduidelik hy. “Hier by Stellenbosch wil ons graag kennis opbou van hoe ons hierdie robotstelsels plaaslik kan vervaardig en ook internasionaal kan meeding.”
Die Departement volg ’n interdissiplinêre samewerkingsbenadering – elektroniese, megatroniese én meganiese ontwerp – om die robot te bou. Studente neem ook aktief deel aan innoverende projekte vir die ontwerp en ontwikkeling van pasgemaakte aandrywers, gevorderde robothande, en humanoïede arms met knypers. “Hierdie tegnologie is ’n opwindende eerste vir die Universiteit, en ons het baie pret met die ontwikkeling daarvan. Almal is baie gretig om daaraan te werk,” sê Duckitt.
Hy voeg by: “As ons dit regkry om ons eie robotte by die US te skep, kan ’n mens dit met die werk van ons Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke kombineer, en kan die studente dan verdere algoritmes en sagteware ontwikkel wat op hierdie stelsels bedryf kan word. Ons sal dit ook aan die plaaslike en internasionale mark kan verkoop. Indien nie, sal ons maar daarmee tevrede moet wees om hierdie tegnologie van ander lande af in te voer.”

Duckitt sê hulle beplan om ’n demonstrasiemodel van die robot aan die publiek bekend te stel as deel van die Fakulteit Ingenieurswese se program by die US Opedag 2025.









Marnus van Heerden skram nie weg van ’n uitdaging nie. Danksy hierdie eienskap is hy een van ’n uitgesoekte groep wat die dubbele BRekLLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, en het hy hom boonop onderskei as ’n baanbreker in die Suid-Afrikaanse versekeringstegnologiemark.
Studente wat vir die veeleisende BRekLLB inskryf, verwerf sowel die graad BRek (Rekeningkunde) as LLB (Regte) binne vyf jaar. Toe hy in 2014 gegradueer het, was Van Heerden een van net sowat 200 mense met dié dubbele kwalifikasie in die land. Die US is tans ook die enigste universiteit wat die program in Suid-Afrika aanbied.
“Ek het nog altyd van ’n uitdaging gehou, en die BRekLLB het na ’n taamlik uitdagende graad geklink om te verwerf,” sê Van Heerden. “Ek het dit as insiggewend en interessant ervaar. Die regsaspek het my geboei, want jy word aan ’n wye verskeidenheid regsgebiede blootgestel, van privaat- tot strafreg. Die rekeningkundige kant is op sy beurt ’n slim loopbaanskuif, want dit bied soveel goeie geleenthede.”

Die gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester het sy klerkskap by KPMG voltooi waar hy van Afrika se grootste versekeraars, herversekeraars en banke, onder meer Old Mutual Insure, Hannover Re, Deutsche Bank en Nedbank, geouditeer het. “In my werk met hierdie maatskappye het ek besef hoeveel ruimte vir verandering en innovasie daar is, veral op versekeringsgebied,” verduidelik Van Heerden. “Baie van hierdie versekeraars volg steeds tradisionele prosesse wat oorwegend papiergebaseerd is en op makelaars en oproepsentrums staatmaak. En dit het tot my deurgedring dat die volgende geslag verbruikers waarskynlik nie hulle versekering op hierdie manier sal wil koop nie.”
Van Heerden was vasberade om hierdie leemte in die versekeringsmark te vul en het in 2017 die digitale versekeraar Pineapple saam met mede-innoveerders Matthew Smith, Ndabenhle
Ngulube en Sizwe Ndlovu gestig. “Ons vier was dit eens dat daar baie verbeter en vernuwe kan word in die versekeringsektor, en ons kon net aan niks anders dink as om dié probleem op te los nie. Ons het ’n klomp verskillende goed op die proef gestel voordat ons uiteindelik met Pineapple vorendag gekom het,” sê hy.
Pineapple bied ’n fieterjasielose oplossing om jou “goeters” te verseker, waaronder geriefies, toestelle, musiekinstrumente en ander waardevolle enkel-items. Hulle produkaanbod sluit sedert 2020 ook motorvoertuigversekering in.
Volgens Van Heerden volg Pineapple ’n omnikanaalbenadering, wat hulle van tradisionele versekeraars onderskei. “Dít beteken dat wanneer ook al ’n kliënt ons wil ook al wil kontak, hulle dit aanlyn, telefonies of via WhatsApp kan doen. Kliënte kan ook hierdie kanale gebruik om ’n kwotasie aan te vra, ’n polis te aktiveer of te wysig, ’n eis in te dien of padbystand te versoek,” verduidelik hy. “Hierdie benadering stel ons in staat om ons kliënte ’n omvattende produk te bied teen ’n aansienlik laer premie as tradisionele versekeraars, wat swaar dra aan omslagtige, verouderde stelsels en ondoeltreffende kostestrukture. Met ons gevorderde tegnologiestelsels kan ons tot in die fynste besonderhede tred hou met hoe kliënte bedien word, en KI-instrumente help ons bepaal of die diens wat kliënte ontvang aan ons standaarde voldoen.”
Hy sê die Suid-Afrikaanse publiek het Pineapple se innoverende benadering, bekostigbare pryse en uitstekende diens met ope arms verwelkom. “Ons is ongelooflik geseënd met hoe belangstelling jaar na jaar toeneem. Ons kliëntebasis het hand oor hand gegroei. In 2023 het ons ’n groeisyfer van nagenoeg 200% gehad, en in 2024 het ons tot dusver met ’n verdere sowat 100% gegroei.”
Nietemin is daar steeds baie wat Pineapple in die Suid-Afrikaanse versekeringsmark kan vermag, voeg Van Heerden by. “Na raming is ongeveer twee-derdes van alle motors op ons paaie onverseker, en ’n baie groot persentasie van hierdie voertuie behoort aan mense onder die ouderdom van 38. Hierdie segment van die bevolking het nog nie soveel versekering aangeskaf as wat hulle eintlik moet nie, en een rede hiervoor is dat versekeraars nie hulle taal praat en hulle nie bedien soos wat hulle bedien wil word nie. Vir ons is dít ’n uitstekende geleentheid.”
Dié voormalige Eendrag-prim en -hoofmentor sê sy studente-ervarings het ’n groot rol gespeel in sy entrepreneursreis. “Die geleentheid wat ons by Eendrag gehad het om skouers te skuur met suksesvolle sakelui soos die uitvoerende hoof van Naspers en die stigters van Capitec help ’n mens glo dat jy óók iets betekenisvol kan bereik,” sê hy. “Nietemin dink ek ook ’n mens word waarskynlik heelwat meer beïnvloed deur jou portuur, saam met wie jy soveel tyd deurbring. Om saam met ’n groep talentvolle en ongelooflike mense met uiteenlopende belangstellings en uit diverse omgewings te woon, het my op ’n ander manier na die wêreld help kyk. Ek is ontsettend dankbaar vir my jare by die US en in Eendrag.”



Die Universiteit Stellenbosch (US) is besig met ’n visueleregstelling- en restitusieprojek om ’n historiese begraafplaas te gedenk op die terrein waar die Universiteit se mediese kampus en Tygerberghospitaal deesdae geleë is. Die proses het ’n diepgaande impak op nie net die betrokke gemeenskap nie, maar ook die Universiteit.
Die Hardekraaltjie-begraafplaas is van 1910 tot 1947 gebruik en het ’n kernrol vervul in die lewens van die voormalige Tiervlei-gemeenskap. Die gemeenskap is later ingevolge die apartheidsregering se Groepsgebiedewet onder dwang uit die gebied verwyder en na die Kaapse voorstad Ravensmead verskuif. ’n Eiendomsoordrag deur die destydse Parow-munisipaliteit het die US in 1971 die eienaar van ’n gedeelte van die grond gemaak.
Die kwessie is die eerste keer onder die Universiteit se aandag gebring deur Daniel Dietrich, ’n voormalige US-personeellid wie se pa en dié se broer by Hardekraaltjie begrawe is. Die US het oor die afgelope aantal jaar met gemeenskapslede in gesprek getree om hulle band met die begraafplaas te herstel en hulle voorgeslagte op ’n gepaste manier te gedenk. Gevolglik het die Universiteit die Hardekraaltjie-beheerkomitee uit verteenwoordigers van die Onderskrif: Lede van die Tiervlei /Ravensmead-gemeenskap, die US en Tygerberghospitaal saamgestel om die aard, fokus en gewenste uitkoms van die restitusieproses te bepaal.

Dr Therese Fish, die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, is medevoorsitter van die beheerkomitee. Sy sê die komitee het ’n aantal intervensies van stapel gestuur om die gedenkproses voort te dryf. “Die eerste gaan daaroor om die geskiedenis van die Hardekraaltjie-begraafplaas en van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe én die oorvleueling tussen die twee te verstaan,” verduidelik dr Fish. “Ons soek nog na die argiefmateriaal oor die begraafplaas, waaronder die rekords van die persone wat daar begrawe is. Maar die navorsingsassistent vir die projek kon tot dusver meer as 250 name identifiseer uit doodsberigte in die Nasionale Argief. Die munisipale argief dui daarop dat tot 700 individue daar ter ruste gelê is.”
Vir die tweede intervensie, sê sy, sal die US by Erfenis Wes-Kaap aansoek doen om ’n gedeelte van die Tygerbergkampus as gedenkwaardig te verklaar ter herinnering aan diegene wat by Hardekraaltjie begrawe is. Die beheerkomitee werk tans saam met ’n gekontrakteerde erfenispraktisyn om die aansoek af te handel.
Die derde intervensie behels ons skakeling met die Tiervlei/Ravensmead-gemeenskap. Dít het uitgeloop op die ontwikkeling van ’n tydlyn oor die geskiedenis van die begraafplaas vir die gemeenskapslede se eie gebruik,” gaan dr Fish voort. “Die boek Landscapes of Dispossession: Stories of the Hardekraaltjie Cemetery – Told by the People of Tiervlei-Ravensmead is ook deur ons vennootskap gekonseptualiseer en het onlangs die lig gesien.”
Die boek verteenwoordig die stemme en ervarings van plaaslike inwoners wat ’n diepe band met die historiese Hardekraaltjie-terrein het. Dit is by ’n geleentheid in Ravensmead aan 30 gemeenskapslede en -navorsers oorhandig, en bykomende eksemplare sal ook aan plaaslike biblioteke en skole voorsien word. Boonop benut die beheerkomitee dié geleentheid om met die Ravensmead-biblioteek saam te werk aan infrastruktuurontwikkeling vir hulle kinderafdeling.
“As deel van ons werk om hulde te bring aan die ryke geskiedenis en kulturele belang van die omgewings waarin die US funksioneer, is dit van die allergrootste belang om die verhale van die mense van Tiervlei-Ravensmead én van die begraafplaas self te bewaar en te vertel. Die Hardekraaltjie-gedenkprojek vestig ons aandag opnuut op verlore herinneringe en verlore ruimtes, en op ons verantwoordelikheid om dit vir toekomstige geslagte te herwin en te bewaar,” sê dr Fish ten slotte. “Hierdie proses het ons as ’n universiteit herinner aan ons rol in die samelewing, en aan die behoefte om die US ’n plek van genesing, insluiting, leer en óórleer te maak.”






















