INHOUD
01 Van die redakteur
02 Datawetenskap kan lewens verander
03 Maties-alumni versit grense deur die bank
04 Student-entrepreneur ontsluit leer met digitale instrumente
05 Maties Sport:
’n Leier in
hoëprestasie-
sportbestuur
06 Mediese student ontwikkel toep vir orgaanskenking
07 ’n Reddingstou vir diegene met posttraumatiese stresversteuring
08 Sosiale media lei tot bevredigende nuwe beroep
09 Digitale storieverteller van formaat
11 Foto-oomblikke
Die tydskrif Matieland het hom sedert 1956 as ’n prominente publikasie van die Universiteit Stellenbosch gevestig. Hoewel dit aanvanklik op alumni afgestem was, het Matieland mettertyd ontwikkel om ’n veel meer diverse leserspubliek van ons wêreldklasinstelling se navorsing, innovasie en uitnemendheid te vertel.
Dekades lank het ons die tydskrif in gedrukte vorm aangebied. Namate ons in hierdie toenemend digitale wêreld vorentoe beweeg, is dit egter tyd vir Matieland om verandering te omarm. Die publikasie sal voortaan uitsluitlik in digitale formaat uitgegee word. Sodoende sal ons nie net ’n groter gehoor kan bereik nie, maar doen ons ook die Universiteit se volhoubaarheidsbelofte gestand.
Die formaat verander dalk, maar inhoud van gehalte, inspirerende stories en ’n diep band met ons gemeenskap sal steeds die kern van elke uitgawe uitmaak. Dit is dan ook heel gepas dat ons eerste uitgawe stories bevat wat die Universiteit se digitale aptyt toon.
Ons sien daarna uit om hierdie opwindende nuwe hoofstuk in Matieland se bestaan saam met jou aan te pak, en verwelkom jou graag in ons nuwe digitale ruimte.
Lekker lees!
Kunsmatige intelligensie en datawetenskaphulpmiddele speel ʼn belangrike rol in beleidsbesluite oor alles van openbare gesondheid tot slim stede en volhoubare ontwikkeling. Dit kan bewysgebaseerde insette lewer vir meer doeltreffende beleide wat ʼn beduidende impak op mense se lewens sal hê.
Die Universiteit Stellenbosch (US), deur ʼn vennootskap met die Presidensie, die Duitse regering en die Bill & Melinda Gates-stigting, het Afrika se eerste Beleidsinnovasielaboratorium gestig. Die laboratorium, wat deel uitmaak van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke ondersoek die gebruik van datawetenskaphulpmiddele en -benaderings om beleidvorming te versterk, en dien so as toonbeeld van die maatskaplike impak van transdissiplinêre navorsing, deur die gebruik van datawetenskaphulpmiddele en -benaderings vir die versterking van beleidvorming te ondersoek.
Onder leiding van prof Willem Fourie, voorsitter van Beleidsinnovasie en medeprofessor by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, verken die laboratorium hoe datawetenskap- en kunsmatige intelligensie-hulpmiddele (KI-) binne ʼn beleidsvormingsomgewing aangewend kan word om die Verenigde Nasies se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) vinniger te bereik.
Die laboratorium is in kundige hande aangesien Fourie ook die stigter van een van die wêreld se grootste KI-aangedrewe kennishulpbronne oor die SDG's, die South African SDG Hub, is. Hierdie metaplatform bring die mees tersaaklike navorsing oor die SDG's uit plaaslike en uitgekose buitelandse universiteite byeen.
Met ʼn agtergrond in die sosiale wetenskappe, het Fourie se belangstelling in openbare beleid begin met sy magistergraad en later sy doktoraat aan die US, waar hy gewerk het aan die interaksie tussen godsdiens en openbare beleid. Hy het later sy navorsing uitgebrei om te verken hoe leierskap op doeltreffende beleidsvorming inspeel. In hierdie tydperk het ʼn datawetenskapspan onder Fourie se leierskap ontwikkel en was hy ook die medestigter van ʼn tegnologie- beginnerbesigheid wat van KI gebruik maak om beleidsrelevante dokumente te ontleed.
Die US se Beleidsinnovasielaboratorium lewer ʼn beduidende bydrae oor verskeie gebiede heen, van politiek en digitale transformasie tot volhoubaarheid. Baie van die laboratorium se projekte word in samewerking met die Beleid en Navorsingsdienste-tak in die Presidensie, sy staatsvennoot, uitgevoer.
Die Beleidsinnovasielaboratorium wil graag verken hoe die toepassing van KI en datawetenskap Suid-Afrika en die res van die wêreld kan help om die SDG's vinniger te bereik. “Ons toetreepunt tot die SDG's is SDG 17, veral die fokus daarvan op die belangrikheid van beleidsamehang en beleidskoördinasie. Daarom fokus ons huidige projekte op meer gekoördineerde en doeltreffende beleidsvorming in Suid-Afrika en minder duplisering en beleidskonflik deur die toepassing van datawetenskap en KI," verduidelik Fourie.
Om die openbare sektor se vertroue in die gebruik van KI te verhoog, het ʼn span by die laboratorium, onder leiding van dr Gray Manicom, ook ʼn soekbare aanlyn katalogus van KI-hulpmiddele saamgestel. “Hierdie soekbare katalogus baat beide die regering en besighede wat belangstel om KI in die Suid-Afrikaanse openbare sektor aan te wend, deur hulle te help om gebruiksgevalle waar KI tans oorsee gebruik word op te spoor,” verduidelik Manicom.
Dis op Stellenbosch dat ek die eerste keer van Capitec gehoor het. Dit was 2004, so skat ek, en ’n vriend en sy meisie het vir hulle rekeninge daar gaan oopmaak. Rente van 10% is wat kon jy verdien en dit was ’n geleentheid wat so uitgestaan het, dat ’n mens dit nie kon misloop nie. Ook natuurlik ’n geleentheid wat ek in daardie stadium nie benut het nie. Die bank waar jou jy eerste kaart gekry het – of dit nou as tiener of student was – is die een waar jy mos bly tot die einde van jou finansiële lewe. En vir wat sal ek dan nou ’n nuwe bank vertrou?
Tog was daar ’n klompie ouens wat met ’n nuwe onderneming daardie ou denkpatroon van my en nog miljoene meer wou verander. En die meeste van hulle het lang draaie in Matieland geloop.
’n Bank ontstaan nie sommer vanself nie. ’n Instelling wat wettig deposito’s neem en lenings uitreik, is ’n saak van fyn beplanning, streng nakoming van die regulasies, die regte tegnologie en natuurlik ’n goeie hopie kapitaal. Capitec kry sy naam van laasgenoemde twee: "kapitaal" en "tegnologie". Dis ’n bank wat, anders as die ou reuse in die bedryf – wat in Johannesburg gesetel is – sy hoofkantoor in Stellenbosch se Technopark het. Heel gepas, aangesien die meeste van die stigters hulle grade net oor die bult in die Eikestad verwerf het.
Daar is Michiel le Roux, sowat 'n halwe dekade lank ’n inwoner van Eendrag, wat in die laat-1990’s deur sy ou koshuiskamermaat, Chris Otto, genader is om na ’n mikroleningsbesigheid te kyk. Die PSG Groep, wat Otto saam met oud-Simonsberger Jannie Mouton gestig het, het 'n paar dosyn woekeraars op hulle boeke gehad, maar nie heeltemal geweet waarheen om met dié winsgewende deurmekaarspul waarin hulle belê het te gaan nie. Le Roux kyk toe die storie so en sê uiteindelik die ding kan werk as ’n bank vir die tienmiljoene in Suid-Afrika wat steeds van finansiële dienste uitgesluit is. Kort voor lank trek hy nog ’n paar oud-Maties nader in die gedaante van Riaan Stassen en Gerrie Fourie ('n oud-Dagbreker het my 'n lekker storie oor hom vertel). Tussen die drie van hulle sou hulle vir meer as 20 jaar aan die stuur van die besigheid wees. Deur die oppe en affe van die Suid-Afrikaanse ekonomie in die eerste twee dekades van die nuwe eeu bou die span, saam met nog ’n klomp wat Victoriastraat se plataanlanings en Coetzenburg se modderige rugby-derbies goed ken, ’n bank met 23 miljoen kliënte.
Deesdae het Capitec meer kliënte as enige ander finansiële instelling en spog met ’n markwaarde van meer as R300 miljard. Dis ’n besondere prestasie in ’n bedryf waar verandering gewoonlik maar traag is – van nul tot 23 miljoen in 23 jaar! Die vraag is natuurlik hoe hulle dit reggekry het. En dít beantwoord ek met ’n paar draaie in Capitec: Stryd met die Grotes wat in Oktober deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer is. Dit begin alles by grondboontjies – ja, grondboontjies. En van daar ontwikkel ’n besigheid wat vinnig moes formaliseer. Hier help die fyn aanvoeling van ’n span wat hulle vernuf eers in ’n ander bedryf geslyp het, om die bankwese op sy kop te keer.
Intussen het ek my ou universiteitsvriend se raad gevolg. Soos een uit elke twee Suid-Afrikaanse volwassenes het ek ook nou ’n Capitec-rekening. Die rente is deesdae meer beskeie, maar die bank kom al hoe nader daaraan om alles te bied waarop die ou grotes vir lank so ’n ferm greep gehad het.
Gebeur so ’n reuse-skuif in ’n gevestigde bedryf outomaties? Nee, nie outomaties nie, maar wel met oud-Maties.
As 'n graad 9-leerder, het Alexandra Lutz, deesdae 'n eerstejaarstudent in Datawetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), besef dat baie van haar portuur toegang tot aanlyn leerhulpbronne kortkom. Dit het haar aangespoor om 'n gratis digitale platform, wat onderwys meer toeganklik sou maak, bekend te stel.
Die sluiting van skole gedurende die pandemie het beteken dat talle leerders op digitale hulpbronne moes staatmaak. Terwyl dié oorgang vir talle, met inbegrip van Lutz en haar portuurgroep by St John’s Diocesan School for Girls (D.S.G.) in Pietermaritzburg, glad geskied het, het sy opgemerk dat baie ander leerders nie dieselfde toegang tot aanlyn platforms gehad het nie.
Met die toestemming van haar skoolhoof het Lutz begin om digitale materiaal soos werksblaaie en video’s met ʼn paar leerders van die Imbeleko-stigting, wat in die landelike gemeenskap van KwaNyuswa in KwaZulu-Natal geleë is, te deel.
Ná drie jaar se werk aan die ‘proefprojek’ het Lutz saaikapitaal bekom om ʼn prototipe vir ʼn aanlyn platform te ontwikkel en in 2023 is die organisasie sonder winsbejag, Milani Education, vrygestel met inhoud wat die vorige jaar, toe Lutz nog in graad 11 was, opgespoor is.
Die maatskappy se naam beteken 'om te groei' in Zulu en is deur die assistent-kapelaan by St John’s D.S.G. voorgestel. Lutz het dit as gepas beskou omdat “onderwys na eksponensiële groei vir ʼn persoon, beide geestelik sowel as professioneel, [lei]”.
Milani Education is ʼn gratis aanlyn leerplatform wat opvoedkundige inhoud uit die huidige kurrikulum voorsien aan leerders in graad 8 tot 12 regoor Suid-Afrika. Hoog aangeskrewe skole skenk die inhoud gratis aan die beginnerbesigheid. Op die oomblik bedien dit ongeveer 800 leerders, wat toegang het tot 1 000 video’s wat hulle as ʼn aanvullende onderwyshulpmiddel kan gebruik.
Tans bied dit Wiskunde, Engels Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal (EAT) aan. Lutz sê dat hulle besig is om inhoud vir Wiskundige Geletterdheid te modereer, wat binnekort vrygestel sal word.
As die span uitbrei en verdere finansiering bekom, sal Milani Education meer van die hoofskoolvakke aanbied, sê Lutz. Milani beplan om sy netwerk van vennootskole uit te brei om meer onderwysers aanlyn aan leerders beskikbaar te stel. Die span wil ook die inhoud in Afrikaans, Zulu en Xhosa vertaal, en die platform vir datadoeltreffendheid optimaliseer.
Om haar werk en haar studie te balanseer, moet Lutz haar tyd baie goed bestuur. Sy sê dat sy haar dag ‘kompartementaliseer’ om vir albei beskikbaar te wees. Milani se span van drie is oplossinggedrewe en nie bang om struikelblokke aan te pak nie, voeg sy by.
Lutz beplan glad nie om haar entrepreneurskapstrewe op te gee as sy oor ʼn paar jaar gradueer nie. Sy hoop om in staat te wees om die daaglikse bestuur van Milani Education aan haar span te kan oorhandig sodat sy ander ondernemings in die beginnerruimte kan aanvoor. “Maar Milani sal altyd my baba wees.”
Die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Hoëprestasiesport, 'n afdeling van Maties Sport, is goed op pad om ʼn leier op die gebied van hoëprestasiesportbestuur in Suid-Afrika te word. Dít volg op die sukses van die Eenheid se tegnologieprogrammatuur vir afstandsafrigting, wat gebruik word om sy hoëprestasie- en Geïntegreerde Geneeskunde en Wetenskap-studenteatlete (GGW-) met pasgemaakte oefenprogramme te help.
Hierdie afstandsafrigtingtegnologie, wat in Januarie 2023 bekend gestel is, bied studente-atlete en IMAS-atlete deurlopende interaktiewe toegang tot oefenmateriaal op hulle kommunikasietoestelle. Dit beteken dat die studente-atlete hulle oefening by hulle akademiese en sportskedules kan inpas soos dit hulle pas.
Die tegnologie stel ook die Eenheid vir Hoëprestasiesport in staat om ʼn databasis van programme en ʼn oefeningbiblioteek met videodemonstrasies op te bou.
Keagan van Aarde, Senior Bestuurder: Eenheid vir Hoëprestasiesport, sê die Eenheid se belegging in die afstandsafrigtingtegnologie het hulle grootste verwagtinge oortref.
Krag-en-kondisioneringsafrigter Havillan Abrahams het die tegnologie oor die afgelope 18 maande gebruik om die prestasie van rugby- en sokkerspelers en ook individuele IMAS-studente-atlete te moniteer.
Hy sê die tegnologie maak dit vir hom makliker om die studenteatlete se daaglikse gim-programme te sien, om subjektiewe te ontvang, en om hulle gewigsbestuurprogramme te moniteer..
“Sedert ons die tegnologie begin gebruik het, was dit ook makliker vir studente-atlete om hulle ideale doelgewigvereistes vir hulle onderskeie sporte te moniteer en beheer daaroor te neem,” sê Abrahams.
Jonty Wright, 'n mediese student in sy vierde jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs 'n webgebaseerde toepassing (webtoep) ontwikkel wat nie slegs die jongste inligting oor orgaanskenking verskaf nie, maar gebruikers ook in staat stel om as orgaanskenkers te registreer.
Die webtoep, save7.org, het tot dusver meer as twee miljoen mense deur middel van bewusmakingsveldtogte bereik en meer as 200 lede gewerf, wat wissel van mediese studente tot beroepsgesondheidstudente tot grafiese ontwerpers.
Wright sê: “Die webtoep stel enigiemand in staat om inligting oor orgaanskenking te sien, of dit nou studente, dokters of iemand is wat vir ʼn orgaan wag of een ontvang. Mense kan ook as orgaanskenkers registreer en ʼn persoonlike stemboodskap vir hulle naasbestaandes los waarin hulle hul begeerte om ʼn orgaanskenker te wees, uitspreek. Dít is belangrik omdat die familie se toestemming noodsaaklik is en dit sal verseker dat families van die skenkers se wens om hulle organe te skenk, bewus is.”
Die webtoep word bestuur deur Save7, ʼn organisasie sonder winsbejag onder leiding van studente en wat op orgaanskenking fokus, waarvan Wright die president is. Die ander kernlede is Naazim Nagdee, Sachen Naidu en Suhayl Khalfey. Die organisasie se groep adviseurs sluit oorplantingchirurge en oorplantingskoördingeerders van regoor die land in. Save7 het takke by die US, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Kaapstad, Walter Sisulu Universiteit en Nelson Mandela Universiteit.
Wright sê dat persoonlike ondervinding tot die ontwikkeling van die webtoep gelei het.
“Ek het ʼn dame met die naam Lynette Stuurman ontmoet wat by die Matie-winkel werk en wat met ʼn niersiekte gebore is. Hierdie siekte sal tot nierversaking lei teen die tyd dat sy haar laat twintigs bereik. ʼn Nieroorplanting is haar enigste hoop. Haar suster is oorlede terwyl sy vir ʼn oorplanting gewag het. Ek was heeltemal uit die veld geslaan deur daardie verhaal omdat daar niks meer is wat mediese behandeling vir Lynette kan doen nie, buiten om vir haar ʼn oorplanting te kry. En vir dít om te gebeur, het ons ʼn gewillige skenker nodig, en die feit is dat ieder en elke persoon ná hulle dood hulle organe kan skenk en iemand soos Lynette kan red. Ál wat mense moet doen, is om met hulle families te praat en te sê dat hulle ʼn orgaanskenker wil wees en dat hulle hul organe wil skenk.”
Hy voeg by: “Om die waarheid te sê, dit is hoekom ons organisasie se naam Save7 is. Almal het die potensiaal om sewe lewens te red wanneer hulle sterf en hulle het die potensiaal om selfs meer te red terwyl hulle nog lewe, deur ieder en elke persoon, hetsy familie of vriende, aan te moedig om dieselfde te doen.”
Die webtoep is die jongste innovasie wat deur Wright en die Save7-groep in die orgaanskenkingsruimte geïnspireer en verwesenlik is. In April het hulle begin om ʼn gespesialiseerde intensiewesorgeenheid vir orgaanskenkers by Tygerberghospitaal tot stand te bring. Die eenheid, wat die ‘Life Pod’ genoem word, is die eerste van sy soort in Afrika en sal lewensinstandhouding aan orgaanskenkers voorsien (met hulle vooraf toestemming), om hulle organe lewensvatbaar te hou totdat dit vir oorplanting geoes kan word. Die groep het ʼn geskikte vertrek in die hospitaal geïdentifiseer en het R400 000 nodig gehad om die vertrek na ʼn ‘kits’-ISE om te bou.
Volgens Wright kon hulle intussen die nodige fondse werf, grootliks danksy skenkings deur die publiek.
“Op die oomblik is ons net besig met die dokumentasie om die skenkings te verwerk en ons hoop om binne die volgende twee weke met die bou van die ‘Life Pod’ te begin.”
Leiers aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) in hulpbronbeperkte Suid-Afrika het ʼn reddingstou ontvang nadat navorsers onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) se dr Erine Bröcker ʼn slimfoongebaseerde ingryping ontwikkel het wat ʼn meer toeganklike en laekostebehandelingsalternatief vir Suid-Afrikaanse volwassenes met PTSV bied. Die berader-ondersteunde toepassing, PTSD Coach-CS, het die potensiaal om toegang tot psigiatriese sorg te verbreed en sommige van die versperrings in die pad van behandeling te verwyder.
Volgens Bröcker, ʼn kliniese sielkundige wat in traumablootstelling en PTSV spesialiseer, is die PTSD Coach-CS gebaseer op die oorspronklike weergawe van die PTSD Coach-toepassing (toep) wat deur die Verenigde State se Departement van Verdediging en Veteraansake ontwikkel is om hulle oorlogsveterane by te staan.
“In plaas daarvan om hulpbronne te gebruik om ʼn toep te ontwikkel, wat duur en tydrowend kan wees, het ons hierdie toep gebruik, wat reeds deeglik in hoë-inkomste-omgewings nagevors is. Ons het die ingryping aangevul met voorligtersteun om, waar nodig, met tegnologie en taalprobleme te help. Ten slotte het ons ʼn PTSD Coach-CS-ingryping by volwassenes met PTSV in ʼn Suid-Afrikaanse gemeenskapsopset geëvalueer. Dit was die eerste keer dat die PTSD Coach-CS-toep in ʼn lae-middel-inkomstegroep geëvalueer is en dit was ʼn nuwigheid om dienslewering met minder gespesialiseerde geestesgesondheidsorgdienste (geregistreerde voorligters) aan te vul. Op grond van die PTSV- en stressimptoomverbetering met die verloop van tyd in die PTSD Coach-CS-groep, dui ons bevindings daarop dat dit ʼn laekoste-, haalbare, geskikte en potensieel doeltreffende behandelingsalternatief vir volwassenes in ons hulpbronbeperkte omgewing is.”
Sy voeg by dat die PTSD Coach-toep self ook daarop gemik is om traumablootgestelde volwassenes met PTSV by te staan met psigo-opvoeding, hulle aan te moedig om behandeling te soek, indien nodig, en om hulle PTSV-simptome te moniteer en te bestuur.
Bröcker brei uit oor waarom die PTSD Coach-CS-ingryping so geskik is vir die Suid-Afrikaanse omgewing.
“Ongelukkig het Suid-Afrika ʼn hoë voorkoms van traumatiese blootstelling, soos intiemepaargeweld, fisiese en seksuele aanranding en ernstige motorongelukke. Die nadraai van sulke traumatiese blootstelling kan die ontwikkeling van simptome van posttraumatiese stres, soos nagmerries, terugflitse van die voorval, prikkelbaarheid en hiperwaaksaamheid insluit, met sommige individue wat PTSV ontwikkel.
“Geskikte, toeganklike en doeltreffende sielkundiggebaseerde ingrypings kan die ontwikkeling van verlammende PTSV in individue wat aan trauma blootgestel is, voorkom of verlig. Die werklikheid van ons stelsel is egter dat toegang tot hierdie ingrypings beperk is, hoofsaaklik weens beduidende beperkings op gesondheidsorghulpbronne, veral in die openbare gesondheidsorgstelsel. Vir sommige individue verhoed die stigma wat aan sielkundige steun verbonde is hulle om van steun gebruik te maak, selfs as die hulpbronne beskikbaar is. Gevolglik maak traumablootgestelde individue nie noodwendig van ingrypings gebruik of ontvang dit nie.
“Dit het die behoefte versterk om haalbare, geskikte, toeganklike en doeltreffende sielkundiggebaseerde ingrypingsalternatiewe te vind, om toegang tot steun en behandeling in die algemene Suid-Afrikaanse bevolking te verbreed. Die PTSD Coach-CS-ingryping is een sodanige alternatief wat toegang tot steun kan verbreed.”
Bröcker sê dat, hoewel hulle bevindings die haalbaarheid en aanvaarbaarheid van die PTSD Coach-CS-ingryping ondersteun, meer navorsing in groter en meer diverse steekproewe nodig is om die doeltreffendheid van die ingryping in die Suid-Afrikaanse opset volledig vas te stel.
Hulle wil ook die studie se ingrypingsprosedures, wat gelewer word deur geregistreerde beraders en vrywilligers wat in die ingrypingsprotokol opgelei is, op die primêre gesondheidsorgvlak, soos by die gemeenskapsklinieke waar die meeste Suid-Afrikaners roetine- of gewone sorg ontvang, repliseer.
Afstandstoegang tot die PTSD Coach-CS-toep kan te eniger tyd verkry word. Nadat dit afgelaai is, kos dit niks, is geen internetverbinding nodig nie, en neem dit baie min foongeheue in beslag. Bykomende voordele sluit in aanpassings om vir visuele en gehoorgestremdhede voorsiening te maak.
Met die vinnige tempo van die hedendaagse digitale wêreld, het sosiale media nuwe deure oopgemaak vir diegene wat van tradisionale loopbane wil wegbreek. Een van die prominente sosialemedia-beïnvloeders, Cindy Arendse, is ʼn goeie voorbeeld van hoe onkonvensionele loopbane tot persoonlike verryking en ʼn suksesvolle loopbaan kan lei. Met ʼn gehoor wat deur haar outentieke inhoud, waarby hulle aanklank kan vind, bekoor word, het Arendse ʼn sterk handelsmerk opgebou wat veral spreek tot werkende vroue op soek na praktiese en stylvolle moderaad.
Soos baie suksesvolle beïnvloeders was haar paadjie na ʼn sosialemedia-beïnvloeder nie beplan nie. Sy lig die waarde van beheer oor haar eie tyd en besluite uit – aspekte wat sy gedurende haar tyd aan die Universiteit Stellenbosch leer waardeer het.
“Die oorgang van ʼn normale loopbaan na ʼn sosialemedia-beïnlvoeder raak, was nie iets wat ek beplan het nie; dit het net soort van natuurlik gebeur,” sê sy. “Aanvanklik was inhoudskepping meer van ʼn passieprojek as ʼn loopbaanskuif, maar hoe meer tyd ek aan my inhoud bestee het, hoe meer was ek aangetrokke tot die buigsaamheid en kreatiwiteit wat dit gebied het. Die universiteitslewe het my die belang van selfdissipline en tydsbestuur geleer. Daardie ervaring het my laat besef hoeveel waarde ek aan beheer oor my eie tyd en besluite heg.”
Arendse se inhoud handel hoofsaaklik oor stilering deur inspirasie uit die wêreld om haar te put.
“My inhoud is gebaseer op die stilering van daaglikse, drabare uitrustings; dus put ek dikwels inspirasie uit wat ek mense in hulle alledaagse lewens sien dra,” sê sy. “Ek het ʼn unieke, maar nie nuwe nie, benadering tot die mode en dit is om te fokus op die herhaalde dra van klassieke kledingstukke, maar dit is ʼn strategie waarvan my gehoor baie hou.”
Haar egtheid blyk uit haar deurlopende boodskap van liggaamspositiwiteit en die omarming van ʼn mens se eie styl. Haar gehoor waardeer haar realistiese benadering tot die mode, wat die praktiese kant bo kitsmode-tendense beklemtoon. Dit het Arendse nie lank geneem om die potensiaal van sosiale media raak te sien nie.
“Nadat ek ongeveer ʼn jaar lank inhoud geskep het, het ek begin om die potensiaal van sosiale media as ʼn platform vir finansiële onafhanklikheid in te sien,” sê sy. “Wat as ʼn kreatiewe uitlaatklep begin het, het gou verander in ʼn haalbare loopbaan, soos ek meer geleer het oor hoe ander inkomste deur handelsmerkvennootskappe en inhoudskepping genereer.”
Arendse het hierdie kennis aangewend om ʼn gemeenskap om haar persoonlike handelsmerk op te bou en om medewerking met groot maatskappye te vestig. Haar vermoë om haar gehoor te bereik en die feit dat mense maklik by haar aanklank vind, het tot vennootskappe met groot handelsmerke soos Vodacom se tydskrif GLOW en die Sanlam Groep gelei. Hierdie medewerking het, volgens haar, nie slegs haar sigbaarheid ʼn hupstoot gegee nie, maar haar ook in staat gestel om tot betekenisvolle gesprekke by te dra.
“Die veldtog saam met Sanlam het veral groot impak gehad omdat dit my in staat gestel het om te help om jonger volwassenes oor belangrike finansiële onderwerpe, wat nie altyd maklik navigeerbaar is nie, in te lig. Hierdie vennootskappe het my vermoë om op persoonlike en professionele vlak met my gehoor om te gaan versterk, wat my invloed des te meer impakvol maak.”
Ten spyte van die buigsaamheid van ʼn sosialemedia-beïnvloeder wees, erken Arendse dat dit ʼn uitdaging kan wees om ʼn balans tussen jou persoonlike lewe en professionele verantwoordelikhede te handhaaf. “Dit is soms moeilik om net persoonlike tyd te geniet, sonder om te wonder of dit iets is wat ek met my gehoor behoort te deel,” noem sy. “Die 24/7-aard van sosiale media beteken dikwels dat beïnvloeders die hele tyd ‘aan’ is en dit kan moeilik wees om perke te stel. Ek leer hanteer nog hierdie uitdagings terwyl ek bly konsentreer op die skep van outentieke, waardevolle inhoud vir my volgelinge”
Omdat haar breë teikengehoor werkende vroue is wat afgerond en stylvol wil lyk sonder om hulle klerekaste te oorkompliseer, lewer Arendse pasgemaakte inhoud om aan die behoeftes van haar gemeenskap te voldoen.
“Aangesien my styl wentel om klassieke, tydlose stukke, gaan dit nie net oor die heeltyd nuwe goed koop nie, maar eerder oor om dit wat jy reeds het, te stileer op wyses wat relevant en vars voel.” Haar raad aan diegene wat inhoudskepping vir sosiale media as 'n beroep oorweeg, is om altyd outentiek te bly.
Arendse verwag dat die rol van sosiale media selfs verder sal ontwikkel, veral vir daardie jong beroepslui wat alternatiewe loopbane soek.
Met sy dinamiese vermenging van kundigheid in televisieproduksie en digitale redaksionele strategie, het Renaldo hom as 'n toonaangewende jong stem in die skep van mediahandelsmerke in die immer ontwikkelende digitale landskap gevestig.
“Ek was nog altyd ʼn ‘gestruktureerde skepper’. Ek het doelbewus albei kante geslyp,” sê Renaldo. “Dis deel van my verhaalkunsreis.” Sy passie vir digitale innovasie het hom al talle eerbewyse besorg, waaronder insluiting by Mail & Guardian se lys van 200 jong Suid-Afrikaners, en Vodacom se toekenning vir Streeksjoernalis van die Jaar.
Renaldo se reis begin as kampusradio-omroeper by MFM op Stellenbosch. Hier is sy belangstelling geprikkel in ʼn wêreld waar sy werk weer en weer erken sou word. Van MFM af is hy na Media24 as ʼn videonuusvervaardiger, waar hy as projekbestuurder van die groep se digitale jeugnuusplatform, OnsKan24, gedien het. Hierdie inisiatief het jongmense oor joernalistiek en die digitale ruimte geleer en het 'n World Young Reader-prys van WAN-IFRA (die Wêreldvereniging van Koerante en Nuusuitgewers) losgeslaan. Daarna is Renaldo aangestel as digitale leier by Jacaranda FM, waar hy die stasie se digitale platforms, inhoudspanne en redaksionele strategie behartig het. Tydens sy dienstydperk het die stasie die digitale ruimte van Suid-Afrikaanse radio oorheers. Gemiddeld meer as 'n miljoen unieke besoekers het die stasie se webtuiste elke maand besoek.
Renaldo het groot lof verdien vir sy vermoë om aan die spits van grootskaalse multiplatformprojekte te staan. Sy hoog aangeskrewe Showmax-dokumentêr Skeef, het sy talent vir storievertel en die verteenwoordiging van LGBTQIA+-mense in Suid-Afrika ten toon gestel. Die sukses van hierdie projek het tot ʼn ooreenkoms met ʼn uitgewer gelei, en sy gelyknamige boek was binne die eerste maand 'n topverkoper. Renaldo se jongste prestasie is sy insluiting by die kortlys van drie finaliste vir die kategorie 'Digitale Bemarker van die Jaar' van die New Generation-toekennings. “Dis ʼn eer om die kortlys te haal. Waarop ek selfs trotser is, is dat ons inhoudsbemarkingspan 10 benoemings vir vanjaar se New Generation Sosiale & Digitale Media-toekennings ingeoes het!”
Regdeur sy loopbaan het Renaldo ʼn skerp vermoë getoon om by die steeds veranderende medialandskap aan te pas. Sy kundigheid met televisieproduksie en digitale redaksionele strategie het hom in staat gestel om aan die voorpunt te bly. “Die maak van my dokumentêr en my boek het aan my bewys dat ek dit kan doen,” sê Renaldo. “Dit was ʼn oefening in selfvertroue.”
Renaldo se professionele loopbaan as ʼn multimediajoernalis word gekenmerk deur innovasie en uitnemendheid. Sy werk het hom reeds talle toekennings besorg, waaronder twee Silwer MMA SMARTIES-toekennings en die Universiteit Stellenbosch se Rektorstoekenning vir alumni.
Sy passie vir die verhaalkuns en digitale innovasie het ook van Renaldo ʼn gesogte spreker en denkleier in die bedryf gemaak. Sy verbintenis tot verteenwoordiging en inklusiwiteit het ʼn nuwe geslag mediaberoepslui geïnspireer, en sy werk beïnvloed nie net bedryfsresultate nie, maar ook die mense in wie se behoeftes dit voorsien en wat daardeur ingesluit word.“Ek soek na tasbare verandering wat vloeibaar en persoonlik is,” verduidelik hy. “Ek sien dit in kykerterugvoer, spanlede se groei, en verteenwoordiging.”
Hierdie skrander jong digitale baanbreker se merkwaardige reis getuig van sy toewyding, kreatiwiteit en passie vir die maak van digitale inhoud. Waar hy steeds aanhou om die grense te toets en ander te besiel, sal sy nalatenskap ongetwyfeld een van uitnemendheid, innovasie en inklusiwiteit wees. oos hy sê: "Kom ons skep nog meer fantastiese werk!"