INHOUD

Baie mense is geneig om aan momentum te dink as iets skielik, soos ’n deurbraakoomblik of ’n beslissende stap vorentoe. Nietemin word momentum by ’n universiteit dikwels stadiger en meer stelselmatig opgebou: deur leierskap, innovasie, vennootskappe, en die gesamentlike toewyding van ’n gemeenskap wat vasberade is om ’n betekenisvolle toekoms te skep.

 

Die Universiteit Stellenbosch (US) het oor die afgelope paar maande voortgegaan om op sinvolle maniere momentum op te bou. Rektor en Visekanselier prof Deresh Ramjugernath se eerste volle jaar in die amp bied ’n goeie geleentheid om terug te kyk op ’n jaar van skakeling, visie, en ’n sterk klem op die bevordering van akademiese uitnemendheid, impak, insluiting en volhoubaarheid.

 

Terselfdertyd is die verkiesing van die US se nuwe Raadsvoorsitter, mnr Bernard Fick, ’n verdere belangrike stap na selfs sterker oorsigbestuur en voogdyskap by die Universiteit. Leierskapsoorgange bied geleenthede vir sowel vernuwing as kontinuïteit om te sorg dat ’n instelling soos die US aanpasbaar, verantwoordbaar en responsief bly in ’n snel ontwikkelende hoëronderwyslandskap.

 

US-innovasie is ook steeds op én buite ons kampusse te sien. Die bekendstelling van die Maties Bestuursakademie dui op ’n verbintenis tot studente-ontwikkeling wat verder as die klaskamer strek om studente toe te rus met noodsaaklike lewensvaardighede wat onafhanklikheid, aanstelbaarheid en toegang tot geleenthede ondersteun. 

 

Ons wêreldwye US-netwerk neem voortdurend toe in reikwydte en invloed. Die bekendstelling van nuwe alumnitakke in Tanzanië en Malawi weerspieël die blywende krag van die Maties-gemeenskap oor grense en generasies heen. Hierdie takke verdiep nie net skakeling tussen alumni nie, maar versterk ook die Universiteit se teenwoordigheid en vennootskappe oor die hele Afrika.

 

Gesamentlik getuig hierdie ontwikkelings van ’n instelling wat aanhou beweeg. Dit dui op ’n universiteit wat doelgerig momentum opbou deur in mense te belê, innovasie te verwelkom, leierskap te versterk, en betekenisvolle plaaslike én internasionale bande te smee.

 

Dankie dat jy voortgaan om die pad saam met ons te stap. Ons vertel jou altyd graag van die stories wat die Maties-gemeenskap en sy impak in die wêreld help vorm.

 

Lekker lees.


Blanché

Leierskapsveranderinge gaan dikwels met groot aankondigings en kitsoorwinnings gepaard. Prof Deresh Ramjugernath, wat in April sy eerste jaar in die tuig as die Universiteit Stellenbosch se 13de Rektor en Visekanselier voltooi het, slaan egter ’n ander koers in en het die afgelope jaar daaraan bestee om stelselmatig ’n nuwe langtermynrigting vir die Universiteit aan te dui. 

 

Met sy eerste jaar aan die stuur van die Universiteit Stellenbosch (US) agter die rug, sê Rektor en Visekanselier prof Deresh Ramjugernath die einddoel is om die Universiteit vir langtermynimpak te posisioneer. Juis daarom is die afgelope 12 maande nie deur enige bepaalde moment gedefinieer nie, maar deur ’n bestendige proses om momentum en ’n gemeenskaplike verantwoordelikheidsbesef te bou. 

 

Hy het met meer as 4 000 studente, personeellede, alumni en vennote geskakel om verhoudings te versterk, na hulle kwessies te luister en die pad vorentoe te beplan.

 

Deel van hierdie oorgang was “doelbewuste institusionele herbelyning” om die US vir volhoubare groei te posisioneer, sê prof Ramjugernath. Dít sluit byvoorbeeld die bekendstelling van drie nuwe Proviserektor-leierskapsrolle in. Die doel van dié strategiese poste is om institusionele prioriteite te ondersteun sonder om met bestaande rolle in die Universiteit se oorsigbestuur-, bestuur- en akademiese strukture te oorvleuel of te bots. 

Oor die veranderinge wat aangebring is sedert hy die Rektorsamp aanvaar het, sê prof Ramjugernath: “Daar’s ’n duideliker rigtingbesef, ’n sterker belyning met Visie 2040, en ’n toenemende begrip dat ons almal ons kant moet bring om daardie visie te verwesenlik.” 

Uitnemend, met ’n doel 

Vir ’n universiteit met ’n gevestigde wêreldwye reputasie, is uitnemendheid ononderhandelbaar. Nietemin is prof Ramjugernath duidelik daaroor dat uitnemendheid nie ’n doel op sigself kan wees nie. “Die vraag is nie of ons uitnemend is nie,” sê hy, “maar hoe daardie uitnemendheid omskep word in impak deur ons onderrig, ons navorsing, en ons bydrae tot die samelewing.”

 

In Suid-Afrika, wat deur ongelykheid, ekonomiese druk en komplekse maatskaplike uitdagings gekenmerk word, maak hierdie denkverskuiwing saak. Die Universiteit se rol gaan oor méér as kennisskepping. Dit gaan daaroor om daardie kennis prakties toe te pas om die ekonomie te help uitbrei, beter openbare beleid te ontwikkel, en gegradueerdes met die vaardighede en ingesteldheid toe te rus om te lei en ’n verskil in ’n veranderende samelewing te maak.

Insluiting maak ons sterker

Insluiting is ’n verdere deurlopende prioriteit. Hoewel party verkeerdelik glo dat groter inklusiwiteit ’n instelling op ’n manier kan verswak, beskou prof Ramjugernath insluiting as ’n dryfveer van uitnemendheid. “Die toekoms van die US hang af van ons vermoë om talentvolle mense uit alle agtergronde te lok en te ondersteun,” beklemtoon hy. “Insluiting is nie ’n aparte projek nie; dit is een van die hoekstene van akademiese gehalte en institusionele legitimiteit.”

 

Hy reken taal is ’n strategiese geleentheid vir insluiting eerder as iets wat verdeel. “As ’n meertalige instelling, het ons ’n verantwoordelikheid om toegang te verbreed en insluiting te verdiep terwyl ons ook wêreldwyd mededingend bly.” Die US se oorkoepelende identiteit, beklemtoon hy, moet “onmiskenbaar Afrika” wees – gewortel in sy omgewing en tot diens van sy gemeenskappe.

Innoveer vir betekenisvolle verandering

Die US is straks een van die land se aktiefste innovasie-universiteite. Die tegnologieoordragkantoor, Innovus, het tot dusver 44 afwentelmaatskappye ondersteun en tel onder die land se voorste patentontwikkelaars. Een van die groot suksesse is CubeSpace, ’n US-afwentelmaatskappy wat in ruimtevaart spesialiseer en satellietbeheerstelsels aan meer as 290 kliënte wêreldwyd voorsien. Boonop het die sake-inkubator LaunchLab in 2025 die CERIBIO-biotegnologielaboratorium bekend gestel. Dié fasiliteit bied die Universiteit se biotegnologieondernemings ultramoderne laboratoriumruimte en toerusting vir navorsing en ontwikkeling. 

 

Maar, sê die Rektor, “innovasie op sy eie is nie genoeg nie. Dit moet in betekenisvolle verandering omskep word”. Hy beplan om sterker klem te lê op navorsingsuitkomste en die ontwikkeling daarvan om ’n praktiese, tasbare impak te hê. Deur vennootskappe wat die US se reikwydte vergroot, kan idees buite die laboratorium en lesingsaal verder uitgebou word om dringende samelewingsuitdagings te help hanteer.

Voorwaarts die toekoms in

Nou verskuif die klem van belyning na versnelling, verduidelik prof Ramjugernath. “Noudat die grondslag gelê is, beweeg die US vorentoe met duidelikheid en doelgerigtheid. Ons is saam verbind tot vooruitgang. Dit behels die bevordering van uitnemendheid, die verdieping van transformasie, en die versterking van ons rol as ’n navorsingsintensiewe instelling ín en vír Afrika,” sê hy ten slotte. 

 

“Ons konsentreer nou daarop om momentum te bou, en te sorg dat ons visie in meetbare, betekenisvolle impak vir ons studente, ons personeel en ons gemeenskappe omskep word.”






Die Universiteit Stellenbosch Raad het Bernard Fick by ’n geskeduleerde vergadering in April as nuwe Raadsvoorsitter verkies – ’n eer wat hy “effe senuagtig” dog met ’n duidelike verantwoordelikheidsbesef en met die groter prentjie in die oog aanvaar het.
 

In gesprek met Bernard Fick buite Admin B op Stellenboschkampus, waar dié pas verkose Raadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) voortaan die vergaderings van die Raad sal lei, blyk sy leierskapstyl van nederigheid en stille vasbeslotenheid reeds duidelik. 

 

Hy beskou die Raad se rol as instaatstellend eerder as voorskriftelik. “Ons verantwoordelikheid,” verduidelik hy, “is om die Rektor en sy bestuurspan te lei en te ondersteun in die uitvoering van ’n duidelik omskrewe strategie.” Daardie strategie sluit akademiese uitnemendheid, sterker vennootskappe, volhoubaarheid en die versterking van institusionele kultuur en prosesse in. 

 

Fick gebruik die bekende oorsigbestuursfrase “neuse in, vingers uit” om die Raad se taak te beskryf – hulle moet betrokke en ingelig wees, maar sonder om in bedryfsake in te meng. “As dit egter vereis word, sal ek die Raad lei om beslissend op te tree,” voeg hy by.

 

’n Onmiddellike prioriteit is belyning. “Daar is sterk steun in die Raad vir die Rektor se visie,” sê hy. Nietemin moet die Raad bereid wees om, wanneer dit nodig is, “skepties en krities” te wees om verantwoordbaarheid te verseker. 

Gereed vir die moeilike vrae

Fick, wat sedert 2024 as ’n skenkerverkose lid in die Raad dien, aanvaar die rol van voorsitter op ’n tydstip wat universiteite voor groot vraagstukke oor kunsmatige intelligensie, die waarde van formele universiteitskwalifikasies, ongelykheid en ’n beperkte arbeidsmark te staan kom. 

 

“Ons moet onsself afvra hoe ons ’n gepaste balans tussen graadgebaseerde akademiese kwalifikasies en beroeps- en indiensopleiding kan verkry,” sê hy. “En hoe kan ons gegradueerdes se werkgereedheid verbeter in ’n ekonomie wat nie genoeg werk skep nie?” Vir die US is hierdie vraagstukke deel van ’n dringende gesprek oor hoe die instelling betekenisvol tot die land se ontwikkeling kan bydra.

 

 

’n Doelgerigte agenda

Vir eers is die afhandeling van kernaanstellings, naamlik dié van Bedryfshoof, Hoof- Finansiële Beampte, Hoofmensebeampte en ’n nuwe Universiteitsombud, boaan Fick se agenda. “Daar word dikwels gesê die belangrikste taak van ’n maatskappydireksie, wat die Raad eintlik maar is, is om die beste moontlike senior bestuurspan aan te stel,” sê hy, “so ek sal erns maak met hierdie aanstellings.”

 

Hy reken ook die studente-ervaring kort hernude aandag, veral wat dienslewering betref. “Daar is verstaanbare redes vir die uitdagings wat ons beleef, wat grotendeels uit die onlangse implementering van die SUNStudent- en SUNFin-stelsels ontstaan het,” sê hy, “maar ons moet verbeter.”

 

 

Balanseer volhoubaarheid met toegang

Danksy sy meer as drie dekades in die finansiële sektor is Fick ’n waardevolle bydraer tot die Raad se werk om die Universiteit se langtermynvolhoubaarheid te verseker. Toenemende studenteskuld, vertraagde uitbetalings deur die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS), die voorgestelde regulering van fooiverhogings en kwynende subsidies plaas al hoe meer druk op universiteite. Tog bly hy versigtig optimisties as gevolg van die US se sterk balansstaat, navorsingsreputasie en die volgehoue ruimhartigheid van skenkers en alumni.

 

Om volhoubaarheid met studentetoegang te belanseer is een van die Raad se moeilikste take. “Ongelukkig is daar nie ’n eenvoudige oplossing nie, en dit is iets wat ons by byna elke Raadsvergadering bespreek,” sê Fick. Om die druk op finansieel kwesbare studente te verlig, ondersteun die Raad inisiatiewe soos aanvullende beurse, buigsame registrasiereëlings, innoverende leningskemas, en die werk van die US se taakgroep oor studenteskuld.

 

“Wat die volhoubaarheid van die instelling en die veelvuldige eise aan sy hulpbronne betref, moet ons egter ook die lang termyn in die oog hou,” sê hy. 

 

 

Transformasie en samehorigheid

Noudat hy dekades later na sy alma mater terugkeer, is dié US-graduandus van 1992 veral beïndruk met die transformasie van die studentegemeenskap. By sy dogter se gradeplegtigheid ’n paar jaar gelede het die diversiteit van die graduandi wat die verhoog oorgesteek het hom opgeval. 

 

Transformasie by die US gaan oor meer as getalle, sê hy. “Dit gaan daaroor om ’n waarlik inklusiewe omgewing te skep waar diversiteit die akademiese projek versterk.”

Hou die groter prentjie in die oog

Van sy kosbaarste US-herinneringe is toe hy sy toekomstige vrou, ’n “beeldskone Musiek-eerstejaarstudent”, by Ertjieskloofdam ontmoet het, en die dag toe hy en sy Dagbreek-koshuismaats saam na voormalige president FW de Klerk se aankondiging oor Nelson Mandela se vrylating op televisie gekyk het.

 

Sy advies aan studente is kort en kragtig: Werk hard en bou lewenslange vriendskappe.

 

Fick behou ’n sterk band met Stellenbosch, of hy nou fietsry in Jonkershoek, ’n koppie koffie by Motherdough of Hygge Hygge geniet, of gholf speel, “darem meestal op die skoonveld”.

 

Trouens, gholf is dalk die beste metafoor vir sy leierskapstyl: geduld, perspektief, en die wete dat betekenisvolle vooruitgang gebeur wanneer jy die groter prentjie in die oog hou.






Met Afrika se eerste SpeedCourt – ’n hipertegnologiese vloerstelsel wat vir sport- en rehabilitasiemeting en -afrigting gebruik word – bewys Maties se 70-jarige mediese fakulteit nogeens waarom hy sowel plaaslik as internasionaal as ’n leier op sy terrein beskou word. Die tegnologie sal oor die volgende ses maande gebruik word in ’n personeelkompetisie wat welstand, innovasie én navorsing sal bevorder.

 

Springbok-, Stormers- en Sewesrugbyspelers het hulle in April by personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aangesluit vir die amptelike bekendstelling van ’n ses maande lange interne kompetisie wat fakulteitspanne ’n geleentheid sal bied om die FGGW se nuwe SpeedCourt-tegnologie persoonlik te ervaar. 

 

Die SpeedCourt, ’n Duitse produk wat verlede jaar in die Fakulteit se Afdeling Fisioterapie geïnstalleer is, is ’n elite- diagnostiese vloerstelsel wat druksensitiewe sensors gebruik om ratsheid, reaksietyd en kognitiewe verwerking intyds te meet. Dié kitsterugvoer bied omvattende insig in sowel fisiese as kognitiewe prestasie, en oorbrug sodoende die gaping tussen kliniese rehabilitasie en hoëprestasiesport. 

 

Die installering van die stelsel is gefasiliteer deur prof Quinette Louw, uitgelese professor en uitvoerende hoof van die Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe, en prof Jochen Baumeister van die Universiteit van Paderborn, Duitsland, wat ook as buitengewone professor in die US se Afdeling Fisioterapie dien.

Kyk holisties na liggaam én brein

“Die SpeedCourt is ’n innoverende benadering tot prestasieafrigting en rehabilitasie wat sorg dat pasiënte nie net vinniger herstel nie, maar ook beter presteer,” sê dr Aneurin Robyn, hoof van Mediese Koördinering vir die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) en ’n trotse alumnus van FGGW se Afdeling Fisioterapie. In konvensionele rehabilitasie word fisiese herstel gewoonlik van kognitiewe gereedheid geskei, en val die klem hoofsaaklik op beweging, krag en fiksheid om te besluit of ’n atleet weer reg is vir mededingende sport, verduidelik dr Robyn. Die SpeedCourt verander dít deur kognitiewe en fisiese prestasie te kombineer. Sodoende kan klinici die brein en liggaam sáám assesseer en afrig in omstandighede wat die vinnige tempo waarteen besluite in mededingende sport geneem moet word meer getrou naboots.

 

Dr Robyn se PhD-navorsing oor eliterugbyspelers se terugkeer na mededingende spel nadat hulle ernstige kniebeserings opgedoen het, het getoon dat spelers se besluitnemingspoed dikwels nog meetbaar verswak is teen die tyd wat hulle weer begin speel, selfs al voldoen hulle aan al die fisiese vereistes. “Dít wys dat fisiese gereedheid op sy eie nie voldoende is nie,” sê hy. “Daarom is hulpmiddele soos die SpeedCourt wat kognitief-motoriese prestasie objektief kan kwantifiseer, nie net nuttige toevoegings nie, maar uiters nodig.” Hy beskou die stelsel, wat deur navorsing gestaaf en deur toonaangewende klubs wêreldwyd gebruik word, as ’n positiewe stap weg van die grotendeels subjektiewe assesserings wat tot dusver gebruik is om besluite oor terugkeer na mededingende spel te neem.

Personeeluitdaging begin in styl

Vir die SpeedCourt-kompetisie sal 14 fakulteitspanne teen mekaar meeding deur dié ultramoderne tegnologie te gebruik om tred te hou met hulle fisiese en kognitiewe data. Terselfdertyd sal die inisiatief ’n kultuur van welstand en innovasie help skep. Die teenwoordigheid van rugbyhelde Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian Willemse, Daniel du Plessis, Seabelo Senatla, Zain Davids en Tristan Leyds by die bekendstelling van die kompetisie het die nodige glans aan die geleentheid verleen en die belang van die SpeedCourt-fasiliteit onderstreep. Feinberg-Mngomezulu het vlugvoetig oor die sensors gewip as bewys van die ratse voetwerk en snelle besluitneming wat die SpeedCourt atlete kan help ontwikkel.

Nóg ’n bewys van wetenskap vir die samelewing 

Die SpeedCourt-installasie is nie net van strategiese belang vir die Fakulteit nie, maar kan ook van aansienlike waarde wees vir die algemene samelewing, sê Prof Conran Joseph, hoof van die Afdeling Fisioterapie. “Ons doel is om die FGGW en die Afdeling Fisioterapie te posisioneer as die voorste bestemming vir die kliniese rehabilitasie van individue met neurologiese, muskuloskeletale en kardiopulmonêre toestande wat hulle beweeglikheid aantas,” sê hy. “Terselfdertyd is dit ons visie om sportgroepe landwyd, van amateur- tot beroepsvlak, in staat te stel om wêreldklastegnologie soos die SpeedCourt te gebruik.”

 

Daarbenewens hou die SpeedCourt ook opwindende geleenthede vir inter- en kruisdissiplinêre navorsing in, voeg prof Joseph by. “Dít sluit in die evaluering van dubbele taakverrigting ná akute beroerte of verworwe breinbesering, die toets van behandelingsprotokolle in sportgeneeskunde, en die ontwikkeling van innoverende biomediese mobiliteitstoestelle wat eerstens veilig is om te gebruik en tweedens in uiteenlopende kontekste getoets word. Die moontlikhede is weliswaar legio.”

 

Die hoop is dat ander instellings in Suid-Afrika en Afrika óók die tegnologie sal gebruik. “Sodoende kan dit institusionele vermoë bou, navorsingsimpak versterk, en betekenisvol bydra tot algemene gesondheidsprioriteite in ons land en op ons vasteland,” sê prof Joseph.






Twintig jaar gelede het innovasie en kommersialisering by die Universiteit Stellenbosch (US) bestaan uit ’n beheermaatskappy met kwalik ’n hand vol afwentelmaatskappye, almal tegnologiegebaseerd, en ’n klein kelderverdiepingkantoor wat hoofsaaklik die papierwerk vir patente hanteer het. Nietemin het daar uit dié beskeie begin ’n momentum ontstaan wat sedertdien gelei het tot ’n portefeulje van 44 afwentelmaatskappye (met nóg aan die kom), ’n LaunchLab wat werk dat dit gons, ’n Universiteitstegnologiefonds wat reeds sy tweede fase beleef, en maatskappye wat internasionale markte bereik en wêreldwye beleggers lok. Ons kyk terug op dié reis saam met een van die grootste kampvegters vir die US se florerende entrepreneurskapskultuur.

 

In 1999 het die Genetika-professor Monroe Marx die destydse Viserektor: Bedryf prof HC Viljoen genader met ’n idee: om sy navorsing in ’n maatskappy te omskep. Uit daardie vergadering is die beheermaatskappy Unistel Holdings sowel as een van die US se eerste afwentelmaatskappye, Unistel Medical Laboratories, gebore. Dit was ook die ontstaan van wat vandag as Innovus se Tegnologieoordragkantoor bekend is. Destyds was die hoofdoelwit betreklik eenvoudig: om die Universiteit se intellektuele eiendom te beskerm, patente te registreer, en te kyk wat gebeur.

’n Goeie dog stadige begin

Dinge het nie juis oornag op dreef gekom nie, sê Anita Nel, die US se hoofdirekteur van Innovasie en Kommersialisering. “Jare lank was die doel bloot om intellektuele eiendom te beskerm, en nie werklik om dit te kommersialiseer of te gebruik om maatskappye te bou nie. Die tegnologieoordragkantoor was in daardie tyd bekend as die Kantoor vir Intellektuele Eiendom en het belangrike werk gedoen, maar om navorsing in ondernemings te omskep was nie ’n hoofstroom-idee nie.”

 

In die vroeë 2000’s het dit duidelik geword dat iets moes verander. “Lisensiëring op sy eie het nie die tipe impak geskep waarna die Universiteit op soek was nie. Die waarde wat deur navorsing geskep is, het dikwels oorsee beland, en die Universiteit het maar ’n skrale opbrengs in die vorm van tantiemes ontvang,” verduidelik Nel. “Ons het besef dat om ’n afwentelportefeulje te bou, ons uitstekende ondersteuning eerder as net goeie ondersteuning moes bied.”

 

Daardie besef was die begin van ’n meer toegespitste benadering wat die weg sou baan vir hoe die US deesdae beginnerondernemings bystaan.

 

 

Die lewensloop van ’n beginneronderneming 

Nel beklemtoon hoe lank dit duur vir nuwe tegnologie om te ontwikkel. Professore en hulle nagraadse studente kan jare of selfs dekades lank ’n konsep ondersoek en bestudeer voordat hulle werk dalk in iets groter ontwikkel. “In ’n stadium word dit dan ’n kommersieel lewensvatbare produk of diens, en wil die navorser ’n maatskappy tot stand bring,” verduidelik Nel. “Tog verlaat die professor nie gewoonlik die US om die nuwe onderneming te bestuur nie. Daardie verantwoordelikheid word dikwels oorgelaat aan een of meer van die akademikus se nagraadse studente, wat weinig indien enige ervaring van die privaat sektor het.” En dít is presies waarom ’n sterk ondersteuningsmodel nodig is om te sorg dat elke rolspeler die regte soort hulp kry.

Gereed om op te rat

Teen 2009 het daar ’n duidelike denkverskuiwing plaasgevind, onthou Nel. “Om ’n sterk afwentelportefeulje te bou, moes die US méér as net goeie idees hê. Ons het infrastruktuur en finansiering nodig gehad, en ’n manier om mense te ondersteun wat nog nooit vantevore ’n maatskappy bestuur het nie.” Die antwoord het in sarsies en oor tyd gekom. 

 

Eers het die Universiteit begin bou aan ’n inkubator, wat deesdae as die US LaunchLab bekend is. Baie reken dié ontwikkeling het die eintlike deurslag gegee. “Die opening van die LaunchLab in 2015 was werklik ’n groot spelwisselaar,” sê Nel. Vir die eerste keer was daar ’n tuiste vir afwentelaktiwiteit by die US. “Navorsers het die inkubator besoek, gesien hoe hulle eweknieë maatskappye stig, en begin glo dat hulle dit ook kon doen.” 

 

 

Voorspoedig gelanseer

Die LaunchLab se bystandspakket het oor tyd aansienlik uitgebrei. Die span bied nou praktiese ondersteuning met ’n ‘concierge-diens’, wat beginners met alles van maatskappyregistrasie en domeinname tot belastingsertifikate en wetsnakoming help. “Die concierge rig die maatskappy op en maak seker daar is ’n behoorlike webtuiste, ’n maatskappylogo, maatskappysekretariële dienste en nog baie meer,” verduidelik Nel. “Daarna volg dieper, strategiese steun.”

 

Die LaunchLab roep ook die hulp van ervare beroepslui in wat deeltyds by maatskappye aansluit om bedryfsleiding te bied, netwerke te help bou, en stigters nuwe uitdagings te help hanteer. “Ons ontplooi hierdie mentors in van die maatskappye om rolle soos bemarking te vervul of om met fondswerwing of produkontwikkeling te help.

 

“Ek het eerlikwaar nog nêrens ter wêreld ’n universiteit teëgekom wat hierdie vlak van omvattende steun vir beginnerondernemings bied nie,” voeg Nel by. “Baie min universiteite voorsien hulle afwentelmaatskappye van enige bystand ná oprigting.”

Finansiering en vars denke

Die LaunchLab was egter net die begin. “Hou in gedagte dat universiteitstegnologie glad nie voor 2020 as ’n investeerbare bateklas in Suid-Afrika beskou of oorweeg is nie. Dit was te ‘onontwikkeld’, so daar was weinig belangstelling,” sê Nel. Terselfdertyd was daar in nasionale verband groter veranderinge aan die gebeur. So byvoorbeeld het die Wet op Intellektuele Eiendomsregte, wat in 2010 in werking getree het, universiteite verplig om nie net hulle intellektuele eiendom te beskerm nie, maar dit daadwerklik te kommersialiseer.

 

Daarom het die span aan die werk gespring om ’n toegewyde finansieringstelsel te skep wat universiteitstegnologieë in ’n baie vroeë stadium sou ondersteun, lank voordat tradisionele beleggers betrokke sou raak. Hierdie werk het uiteindelik bygedra tot die stigting van Suid-Afrika se eerste Universiteitstegnologiefonds (UTF1), wat in 2020 bekend gestel is. 

 

Die doel was om ’n pyplyn te skep wat van vroeëfase-ontwikkeling tot meer beduidende investeringsrondtes beweeg sodat tegnologieë stap vir stap kon ontwikkel. “As ’n aansoeker sukses behaal het in die vooraanvangskomponent van die fonds, kon hulle aanbeweeg na die volgende rondte,” verduidelik Nel.

 

Die eerste fonds het nie net 24 beleggings in Suid-Afrikaanse universiteitsafwentelmaatskappye gemaak nie, maar veral ook mense se sienings van dié maatskappye stelselmatig verander. Teen die einde van die eerste fondssiklus het ander beleggers begin kennis neem en het plaaslike waagkapitaliste saam met die UTF1 in die afwentelmaatskappye begin belê. UTF1 was teen 2024 uitgeput. Vroeg die volgende jaar is ’n tweede fondssiklus (UTF2) meer as dubbel die grootte van die eerste een bekend gestel. “Nou beleef ons ’n instroming van internasionale beleggers wat in ons maatskappye belang stel,” sê Nel.

 

 

Werklike oplossings met ware impak

Die resultate is deesdae in verskeie sektore te sien. Etlike maatskappye het hulle voete danksy die Universiteit se entrepreneurskapstelsel gevind, waaronder 44 US-afwentelmaatskappye, eksterne beginnerondernemings sowel as alumni- én studente-ondernemings. Die US-afwentelmaatskappye het ’n gesamentlike omset van meer as ’n halfmiljard rand en ’n werksmag van 500 mense.

 

Die impak van hierdie maatskappye is beduidend. “Hulle dra by tot die plaaslike ekonomie. Hulle betaal belasting, hulle skep werk,” sê Nel. Maar hulle doen ook soveel meer. “Hulle ontwikkel nuwe mediese toestelle, soek na nuwe maniere om energie te bestuur, en skep tegnologieë om medisyne-ontwikkeling te verbeter. Hulle impak word sowel plaaslik as internasionaal ervaar.” Daarbenewens is Nel in haar skik met die toename in entrepreneurskap onder vroue. “Aan die begin van my loopbaan het ek meestal met manlike entrepreneurs gewerk. Maar dít is vinnig aan die verander namate al hoe meer vroue hierdie tipe rolle aanvaar. Ons spanne is oor die algemeen baie meer divers as voorheen.”

 

Nel herhaal wat sy onlangs gesê het toe sy die Forbes Woman Africa-toekenning as innovasiekatalisator van 2026 ontvang het: “Innovasie was nog nooit net oor ontwrigting nie, maar oor ’n baie spesifieke doel. Dit gaan daaroor om oplossings te skep wat saak maak – oplossings van Afrika vir Afrika én die res van die wêreld.”

Volstoom vorentoe

Die doel die afgelope dekade was om die US se innovasie- en kommersialiseringstelsel te bou, so die volgende dekade sal daaroor gaan om dit verder uit te brei. “Die LaunchLab is reeds vol. Daar is opwindende planne om die inkubator op kampus in ons fakulteite sowel as buite die Universiteit uit te bou, waaronder ’n nuwe teenwoordigheid in die Stellenbosch Bridge-innovasiedistrik,” vertel Nel.

 

Boonop is geleenthede soos Sweat Africa ook nou deel van hulle groeiverhaal, voeg sy by. Die eerste aflewering van dié byeenkoms vir beginnerondernemings – die eerste van sy soort in Afrika – is in Februarie op Stellenbosch aangebied en het stigters, studente, beleggers en vennote op ’n eg plaaslike manier byeengebring. 

 

“Afrika het ’n oorvloed van idees, talent en veerkragtigheid, en daar is geen perke aan wat ons kan bou nie,” sê Nel ten slotte. “Die US sal voortgaan om entrepreneurskap te ondersteun deur die ekosisteem uit te brei, beleggers te lok, mense met mekaar te verbind, en innovasie aan te moedig.”






Vir baie studente is rylesse een van die items op hulle ‘Ek sal nog’-lysie – iewers tussen eksamens, opdragte en alles anders wat die universiteitslewe vereis. Nou kan hulle egter daardie reis net hier op kampus begin.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Maties Bestuursakademie is in April amptelik bekend gestel. Dié inisiatief deur die Universiteit se Departement Vervoerdienste, ’n afdeling van SUNKOM, beoog om studente met selfvertroue te help bestuur.

Die Akademie maak deel uit van die US se algemene, studentegerigte benadering om graduandi vir die lewe ná universiteit voor te berei. In die hedendaagse werkswêreld is mobiliteit dikwels nie meer net ’n aanbeveling nie, maar ’n vereiste, wat toegang tot geleenthede, internskappe en indiensneming beïnvloed.






Ál hoe meer Maties-alumni oor die hele Afrika verstewig hulle bande met hulle alma mater en bou aktief saam aan die Universiteit se toekoms. 

 

’n Senior afvaardiging van die Universiteit Stellenbosch (US) lê in Mei besoek af in Kenia, Tanzanië, Zimbabwe, Zambië en Malawi om alumniverhoudinge te versterk en vennootskappe met ander hoëronderwysinstellings en die bedryf in Afrika te bevorder. ’n Belangrike deel van die besoek is die bekendstelling van nuwe alumnitakke in Tanzanië en Malawi.

 

Deur alumnitakke tot stand te bring, skep US-alumni wat oor die vasteland versprei is toegewyde ruimtes vir skakeling, mentorskap en geleenthede, en bevorder hulle boonop die instelling se visie om ’n universiteit ín en vír Afrika te wees.

 

Vier alumni in Tanzanië en Malawi het hulle tyd en kundigheid aangebied om die takke daar op te rig. “Die internasionale Matie-netwerk is ’n lewenslange gemeenskap wat uit meer as 200 000 gegradueerdes in alle wêrelddele bestaan,” sê Ferdi van Dyk, die US se bestuurder van Alumnideelname. “Die netwerk skep gestruktureerde platforms vir ons Maties om kontak te behou, toegang tot ondersteunende beroepsnetwerke te kry en ervarings uit te ruil.

 

“Deur ons alumnitakke kan oudstudente ook aktief bydra tot die Universiteit se werk deur aan vrywilligerinisiatiewe deel te neem en ons skakeling en teenwoordigheid in die streek te verhoog,” voeg Ferdi by.

’n Geleentheid om te herbelê 

As leier van die alumnitak in Malawi, het Gabriel Musa ’n kernrol vervul om die tak gereed te kry vir die amptelike bekendstelling op 23 Mei. Die tak is ’n gestruktureerde netwerk vir US-gegradueerdes wat in Malawi woon en sal as ’n platform dien vir professionele skakeling, loopbaanontwikkeling, mentorskap en samewerking, sê Musa. Daarbenewens sal dit alumni in staat stel om op ’n meer georganiseerde en betekenisvolle manier tot die algemene gemeenskap by te dra.

 

“Die US belê baie in elkeen van sy gegradueerdes, so hierdie tak bied ’n waardevolle geleentheid om in die instelling te herbelê en terselfdertyd die Universiteit trots te verteenwoordig,” sê hy. “Vir my is dit ’n platform vir diens, bande bou en voortgesette bydraes tot die US se nalatenskap.”

 

Musa is ’n inligtings- en kommunikasietegnologiekenner wat in 2016 sy MPhil in Inligtings- en Kennisbestuur aan die US verwerf het. Hy sê die alumnitak is ’n manier om ’n instelling te ondersteun wat bepalend was vir sy persoonlike en beroepsgroei, en ook te gesels met voornemende studente wat graag aan die US wil studeer. “Ons het al heelwat alumni bereik, en belangstelling lyk belowend. Daar is groot entoesiasme, en baie oudstudente het gesê dit is hoog tyd dat ’n tak op die been gebring word.”

 

Asantie Mussa-Gama, ’n BCom Bestuursrekeningkunde-gegradueerde van 2022, dien ook in die reëlingskomitee van die Malawi-tak. “Ek wou graag die tipe alumnigemeenskap wat ek al in ander lande gesien het na Malawi bring,” sê sy. “Ek glo ’n US-gemeenskap in Malawi sal van groot nut wees, nie net vir my nie, maar vir baie ander.” Die gedagte is dat die tak ’n ‘tweede tuiste’ moet wees vir alumni om die Stellenbosch-gees lank ná gradedag te laat voortleef.

Sterker bande

Dr Philbert Komu het op sy beurt vrywillig ingestem om die alumnitak in Tanzanië, wat op 30 Mei bekend gestel word, tot stand te bring. “Dit is belangrik om die tak te skep, want dit bied ’n noodsaaklike platform vir transdissiplinêre skakeling én vir die bou van ’n sterk Matie-gemeenskap in Tanzanië,” sê dr Komu. 

 

Dié dosent aan die Universiteit van Dar es Salaam wat sy PhD aan die US voltooi het, verwag dat die alumnitak ’n aantal geleenthede vir lede sal skep. “Ek glo dit sal toegang tot die US verbreed en geleenthede vir loopbaanontwikkeling, navorsingsamewerking, innovasie en kennisuitruiling bied,” sê hy. “Ek sien ook uit na sterker bande tussen alumni, die Suid-Afrikaanse diplomatieke gemeenskap in Tanzanië, en universiteitspersoneel en -studente.”

 

Hy word bygestaan deur Aida Kiangi, ’n lid van die reëlingskomitee, wat in 1998 haar MSc-graad aan Maties verwerf het. “As ’n internasionale student van Tanzanië wat nog nêrens waar ek my ook al in Oos-Afrika bevind het ooit ’n alumnitak gehad het nie, het ek kontak verloor met my fakulteit en klasmaats,” verduidelik sy. “Die bekendstelling van die alumnitak in Tanzanië sal my beroepsnetwerk uitbrei en ons in staat stel om ook met takke in ander lande te skakel.” 






swipe down
powered by
SEND-IT.ME

Swipe left

swipe left To move to the next page

Swipe right

swipe right To move to the previous page
Please wait ...